Hy het nog geen besluite geneem ná die belangstelling wat sy dubbele Varsitybeker-toekennings ontlok het nie.
So sê Lourens Oosthuizen, die Shimlas se vuurvreter-flank wat vanjaar as die Varsitybeker-reeks se Voorspeler van die Jaar en ook Speler van die Jaar vereer is.
Dit is die derde jaar in 'n ry dat 'n speler uit Bloemfontein met die mees gesogte eerbewys in die kompetisie wegstap. Dit is ook die tweede jaar in 'n ry dat 'n Shimla daarmee vereer word.
Oosthuizen (24) volg in die voetspore van Cohen Jasper (heelagter, Ixias) en George Lourens (losskakel, Shimlas), wat die vorige twee se wenners was. Albei dié spelers het intussen Cheetahs geword.

Oosthuizen, oftewel "Vlam", was aan die brand in die reeks, veral teen die einde. Dié kêrel met 'n hengse heldeverering vir die eertydse Bok Schalk Burger was in agtereenvolgende wedstryde teen die Ixias en die Maties die Speler van die Wedstryd. Die Shimlas het daarna op hul tuisveld in die halfeindstryd lelik teen die Ikeys vasgeval.
Oosthuizen sê hy het gedink hy kan dalk 'n prys wen toe hy gevra is om die eindstryd in Potchefstroom by te woon.
Hy is tydens die eindstryd as die Voorspeler van die Jaar vereer en het gedink dit was daarvoor. Hy was uit die veld geslaan toe hy ná die wedstryd ook die tweede groot eerbewys kry.
Hy het nie soos die wenners van die vorige twee jare 'n motor gekry nie omdat daardie borg nie meer vanjaar betrokke was nie.
"Ek het reeds 'n paar oproepe (van spanne) gehad. Een was voor die toekenning en een daarna," sê Oosthuizen, 'n oudleerling aan die Hoër Landbouskool Marlow in Cradock.
"Ek is nog tot Junie, Julie se kant hier by die universiteit betrokke."
Sy broer Nicolaas Oosthuizen (26), wat Griekwas op stut verteenwoordig het, speel deesdae vir Enisey-STM in Rusland.




















