Die Bulle sal vir die derde keer in vier seisoene in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskapsreeks (VRK) uitdraf.
Eers het dit gelyk asof die Bulle die Haaie sonder veel moeite op Loftus Versfeld uit hulle pad gaan stormloop, maar hulle moes emmers sweet om met 25-13 te seëvier.
'n Titaniese derby was te wagte en die spanne het nie teleurgestel nie.
Dit was 'n aansienlik beter vertoonvenster vir die kompetisie as die eensydige affêre vroeër die dag in Dublin.
Die tuisspan het vroeg-vroeg gedreig om die Haaie se skrum in puin te lê.
Wanneer laas het jy die trio van Ox Nché, Bongi Mbonambi en Vincent Koch só in trurat gesien?
Ethan Hooker, regtervleuel van die Haaie, het teen die verloop van spel in die sesde minuut omgedraf pale toe danksy 'n verdwaalde aangee van die Bulle se senter David Kriel.
Daar is egter beslis die Haaie se agterlyn was onkant en dit het op 'n strafskop vir die Bulle uitgeloop.
Embrose Papier, wat sy direkte teenstander, die hoogaangeskrewe Bok Jaden Hendrikse, oorskadu het, het 'n oomblik later 'n bres in die besoekers se middelveld geslaan en die vleuel Sebastian de Klerk het 'n uitstekende beweging afgerond.
Papier het ook in die tweede helfte die aanvoorwerk vir Kriel se deurslaggewende drie gedoen.
Die Haaie was aanvanklik slordig op die aanval en verskeie belowende pogings het skipbreuk gely.
Hulle het kort voor die rustyd twee lynstane op die Ligbloues se doellyn gehad, maar daar het niks van gekom nie.
Jordan Hendrikse het boonop 'n af dag by die skopkegel gehad en het met drie stelskoppe skeef gekorrel.
In die drukkoker van 'n halfeindstryd is dissipline van groot belang, en die Bulle het dit vir hulself moeilik gemaak toe die binnesenter Harold Vorster met 'n geel kaart gestraf is vir 'n oortreding by 'n losgemaal.
Die losvoorspelers Cameron Hanekom en Marcell Coetzee het kort daarna ook geles op die lyf geloop, wat beteken het dat hulle langer as 'n kwartier met 13 spelers oor die weg moes kom.
Met die Bulle wat teen rustyd 'n gerieflike voorsprong van 15-3 gehad het, was dit vir Siya Kolisi-hulle belangrik om in die tweede helfte eerste toe te slaan.
Makazole Mapimpi en Hooker is doellyn toe en die Haaie het ewe skielik in die tuisspan se nek geblaas.
Nog 'n stukkie individuele briljantheid deur Papier wat op Kriel se wenpunte in die 65ste minuut uitgeloop het, het egter die uitslag bevestig.
Jy kan nie anders nie as om te wonder of dit 'n oordeelsfout was om die ervare Bokke Kolisi, Nché, Mbonambi en Koch saam te vervang in 'n stadium toe die Haaie beheer geneem het.
Nou pak die Bulle hul tasse om Leinster in Dublin aan te vat.
Hulle gaan dit waarskynlik moet doen sonder die agtsteman Cameron Hanekom, wat die veld in die tweede helfte op 'n draagbaar verlaat het.
Puntemakers:
- . Drieë: Sebastian de Klerk, Canan Moodie, David Kriel. Doelskoppe: Goosen, Johannes. Strafdoele: Johan Goosen, Keagan Johannes.
- . Drieë: Makazole Mapimpi, Ethan Hooker. Strafdoel: Jordan Hendrikse.
















