VRK

Hanekom laat kou hardebaarde klippe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Cameron Hanekom
Cameron Hanekom

Net vier jaar gelede het Cameron Hanekom nog skolerugby gespeel, maar deesdae laat hy hardebaarde veel ouer as hy, en wat jare se toetservaring het, op Loftus Versfeld klippe kou.

Daar was al in sy matriekjaar in Boishaai tekens dat hy 'n breker kan word.

Hanekom het dalk te wyte aan Covid-19 in sy laaste skooljaar min rugby gespeel, maar dit was genoeg om Peter Engledow, toe Boishaai-breier, se oë te laat rek.

Die boorling van Ceres wat eers aan die begin van die hui­dige Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) sy senior buiging gemaak het, het in die Bulfees in Porterville teen 'n groot agttal van die Hoërskool Monument sy spiere gebult. Hy het ook al in gr. 11 vir Boishaai gespeel.

"Ons het 'n baie jong pak voorspelers gehad en Monnas was reusagtig," het Engledow, deesdae Durban High School se afrigter, aan Rapport gesê.

"Ek sal nooit vergeet nie: Came­ron het die bal agter 'n skrum opgetel en net gehardloop. Hy het seker vier Monnas-spelers op hom gehad, net aangehou en is toe oor die doellyn.

"Sy baldra-vermoë was toe al bitter goed.

"As jy na hom kyk, sal jy nie dink hy het ongelooflik baie krag nie, maar daardie dag het ek gedink: Hierdie ou het iets spesiaals."

Die 22-jarige agtsteman, wat vir Suid-Afrika se Speler van die VRK-Seisoen benoem was, het gister in die Bulle-beginspan in die eindstryd teen die Glasgow Warriors uitgedraf.

Wat regtig goed op sy ouderdom is, is hoe hy teen Leinster gespeel het

As die Bulle nie in die eindstryd gespeel het nie, was hy waarskynlik 'n aanspraakmaker vir die Springbokke se 23-tal wat gister teen Wallis op Twickenham gespeel het.

In die Bulle se VRK-halfeind teen Leinster verlede naweek is hy as Speler van die Wedstryd aangewys. Hy het groot kanonne soos Ierland se 31-jarige Josh van der Flier (62 toetse) en 31-jarige Jack Conan (46 toetse) in Pretoria oorskadu.

Volgens Engledow, wat ook al vir Griekwas afgerig het, moet baie krediet aan Jake White, die Bulle-afrigter, en sy bestuur gegee word oor hoe vinnig Hanekom ná skool ontwikkel het.

"Daar was 'n paar beserings en Jake het hom 'n kans gegee wat hy aangegryp het. Jake het in hom geglo en laat ontwikkel. Hy het absoluut geblom," sê hy.

"Wat regtig goed op sy ouderdom is, is hoe hy teen Leinster gespeel het. Dit het ook nie gelyk of hy nie daar hoort nie."

Hanekom is die derde jong agsteman uit die Boishaai-stal wat 'n Bok-aanspraakmaker is. Evan Roos (24), wat gister vir Suid-Afrika begin het, en Francke Horn (25) was ook in dié skool.

"Waar Cameron werklik 'n tree vorentoe gegee het, is sy atletiese prestasie.

"As jy kyk na sy werkverrigting en vaardighede in kontak - dis waarna Rassie-hulle in 'n speler soek," sê Engledow.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM