Edinburgh bobaas ondanks sterk Bulle-eindpoging

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Cameron Hanekom, agtsteman van die Bulle, word deur verdedigers van Edinburgh vasgevat in Saterdag se Uitdaagbeker-kwarteindstryd in die Skotse hoofstad.         Foto: Getty Images
Cameron Hanekom, agtsteman van die Bulle, word deur verdedigers van Edinburgh vasgevat in Saterdag se Uitdaagbeker-kwarteindstryd in die Skotse hoofstad. Foto: Getty Images

Die Bulle se veldtog in die Uitdaagbeker-rugbykompetisie het Saterdag in Skotland gesneuwel toe Edinburgh die Ligbloues met 34-28 in die spanne se kwarteindstryd in die Hive-stadion verslaan het.

Dit was 'n wedstryd wat so maklik 'n ander uitslag kon opgelewer het, maar Edinburgh het reeds in die eerste helfte 'n voorsprong van 17 punte opgestapel.

Die besoekers het ná 'n kwartier se spel 'n agterstand van 0-14 gehad.

James Lang, binnesenter van Edinburgh, het in die derde minuut gaan afrond nadat sy sentermaat, Matt Currie, op 'n briljante lyn ingesny en 'n bres in die Bulle se middelveld geslaan het.

Die Bulle-skrumskakel, Zak Burger, is oomblikke later met 'n geel kaart gestraf toe hy Edinburgh se besit by 'n afbreekpunt onwettig bederf het.

Die besoekers het aanvanklik in die eerste helfte min besit en gebiedsvoordeel gehad en was deurgaans op die agtervoet.

Hul enigste drie voor rustyd het gekom toe die senter Harold Vorster op die middellyn met 'n kraglopie begin het en sy sentervennoot, David Kriel, weggestuur het.

Dit was vir die Bulle van kritieke belang om eerste toe te slaan ná rustyd, maar hulle het dit vir hulself moeilik gemaak toe die flank Jannes Kirsten in die 41ste minuut die trekpas gekry het weens 'n gevaarlike hoogvat.

Kirsten het skaars sy sit gekry toe Grant Gilchrist, mede-kaptein en slot van die Skotte, sy span se vierde drie gedruk het.

Dit het Edinburgh se voorsprong na 31-7 gerek.

Canan Moodie het weer 'n indrukwekkende vertoning vir die Bulle gelewer toe hy kans teen Edinburgh gekry het.  Foto: Deaan Vivier
Canan Moodie het weer 'n indrukwekkende vertoning vir die Bulle gelewer toe hy kans teen Edinburgh gekry het. Foto: Deaan Vivier

Die Ligbloues het tydelik beheer geneem namate Bok-plaasvervangers soos Marco van Staden, Canan Moodie en Jan-Hendrik Wessels van die bank af ontplooi is.

Cameron Hanekom, agtsteman van die Bulle, het omgedraf pale toe kort nadat 'n strafdrie aan sy span toegeken is.

Edinburgh het daarna weer die inisiatief geneem met 'n Ross Thompson-strafdoel.

Kriel se tweede vyfpunter het die uitslag ewe skielik in die weegskaal geplaas en daar was meer as een geleentheid vir die Bulle om vir 'n opskudding te sorg.

Dit was helaas omgekeerde besit wat die voormalige Bulle-stut van Edinburgh, Pierre Schoeman, bewerkstellig het toe die besoekers sterk op die aanval was, wat die eindfluitjie laat opklink het.

Puntemakers:

Edinburgh 34 (24). Drieë: James Lang (2), Magnus Bradbury, Grant Gilchrist. Strafdoele: Ross Thompson (2). Doelskoppe: Thompson (4).Bulle 28 (7). Drieë: David Kriel (2), strafdrie, Cameron Hanekom. Doelskoppe: Keagan Johannes, Johan Goosen (2).

SPELETJIES VANDAG

CTA