Die Leeus het die Skotse span Edinburgh, wat wemel van Skotse toetsspelers, Saterdagmiddag in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) op Ellispark in Johannesburg, met 55-21 verslind.
Die Leeus, wat die Noord-Ierse span Ulster verlede week ook oortuigend geklop het, was veral in die eerste helfte niks anders as briljant nie.
Hulle het in dié helfte nie minder nie as sewe drieë gedruk en teen rustyd reeds met 48-0 voorgeloop.
In die tweede helfte Saterdag op Ellispark was die prooi reeds platgetrek en doodgebyt en die Leeus het die voet van die versneller afgehaal en in dié helfte net een drie gedruk.
Hulle moes dalk hul tande dieper in die prooi ingeslaan het. Edinburgh het wel beter begin speel, maar die koeël was deur die kerk.
Edinburgh, wat vroeër deur kenners beskou is as een van die gunstelinge om dié seisoen die VRK te wen, het verlede week ook op Loftus Versfeld in Pretoria met 16-22 teen die Bulle vasgeval.
Wat baie duidelik is, is dat die Leeus se drie Springbokke, Quan Horn (heelagter), Morné van den Berg (skrumskakel) en Edwill van der Merwe (vleuel), die lesse wat Rassie Erasmus en sy afrigtingspan hulle in die Springbokkamp geleer het, ter harte geneem het en dit nou toepas.
Al drie speel met selfvertroue en visie en soek deurentyd werk.
Hul uitmuntende spel het hul spanmaats beïnvloed en dit het - veral in die eerste helfte - gelei tot waarskynlik die beste Leeus-vertoning sedert die gloriedae van 'n Faf de Klerk, Kwagga Smith, Franco Mostert, Malcolm Marx en ander.
Die harde werk van Ivan van Rooyen, die hoofafrigter van die Leeus, en afrigtingspan die laaste paar seisoene begin nou vrugte lewer.
Met rustyd het talle Leeus-ondersteuners net hul koppe geskud en gewonder of hulle nie aan die droom is nie.
Nadat die Leeus in die tweede helfte nie naastenby so goed soos in die eerste 40 minute gespeel het nie, het die ondersteuners Ellispark nogal bedeesd, dog tevrede, verlaat.
Dis immers nie elke dag wat die Leeus agt drieë teen 'n baie sterk span druk nie.
Edinburgh het vroeg in die wedstryd reeds twee strafskoppe afgestaan. Die eerste was sommer in die eerste minuut.
Dié strafskop is deur Kade Wolhuter, losskakel van die Leeus, in punte omskep.
Van der Merwe, wat die eerste keer in drie maande ná 'n enkelbesering weer gespeel het, het vier minute later pragtig gebreek. Dit het uiteindelik gelei tot 'n drie deur Horn. Wolhuter kon nie verdoel nie.
In die 12de minuut het Rabz Maxwane, regtervleuel van die Leeus, onder die pale van Edinburg gedruk. Dit was sy eerste van drie drieë.
Wolhuter het verdoel en die telling was 15-0.
Dit was 22-0 toe die Leeus later uit hul eie doelgebied begin hardloop het. Wolhuter het in 'n stadium mooi gebreek en na Van den Berg laat loop.
Dié het mooi gebreek en toe skielik 'n skop na links gegee wat deur Van der Merwe opgepik is. Hy het 'n teenstander geklop en gaan druk.
Wolhuter het van die kantlyn af oorgeskop.
Hierna het die senter Erich Cronjé links van die linkerregoppaal die tuisspan se bonuspuntdrie gaan druk ná nóg 'n mooi beweging deur die Leeus.
Wolhuter het met die doelskop geslaag (29-0).
Maxwane het die vyfde drie gaan druk nadat Wolhuter mooi gebreek en langs die kantlyn afgehardloop en die bal aan hom besorg het.
Van den Berg het met dié moeilike doelskop geslaag (36-0). Hy het geskop omdat Wolhuther vermoedelik weer 'n dyspierbesering opgedoen het. Wolhuter is deur Sanele Nohamba vervang.
Die sesde drie is deur Francke Horn, die kaptein, gaan druk nadat Horn en Van der Merwe wéér betrokke was. Die Leeus het die bal in die hande gekry danksy die voormalige Blitsbok JC Pretorius (41-0) wat omgekeerde balbesit bewerkstellig het.
Pretorius is vir sy goeie spel as Speler van die Wedstryd aangewys. Hy is duidelik die Leeus se nuwe Kwagga Smith.
Van der Merwe het kort hierna ná nog 'n briljante lopie sy tweede drie gaan druk. Nohamba kon die verdoel nie (48-0).
Rynhardt Jonker (senter) het ook een van die sewe drieë gedruk.
In die tweede helfte het Edinburg drie drieë, deur Grant Gilchrist, Paddy Harrison en Ben Muncaster gedruk.
Ben Healy, losskakel, het al drie drieë verdoel om die telling 48-21 met 12 minute se spel oor, te maak.
Met agt minute speeltyd oor, het die Leeus vir oulaas hard gebrul toe Maxwane sy derde drie in die suidwestelike hoek van Ellispark gaan druk het. Nohamba het uit die hoek oorgeskop (55-21).
Die Leeus vertrek nou oorsee vir die wedstryde teen onderskeidelik die Dragons (Wallis), Zebre (Italië) en Leinster (Ierland).
* Die Leeus moes voor die wedstryd 'n verandering aan hul span aanbring. 'n Olike PJ Botha is deur Franco Marais vervang, terwyl Jaco Visagie, die Curriebeker-kaptein, hom op die plaasvervangerbank vervang het.
Edinburgh se giftige vleuel Ruhan van der Merwe moes hom ook voor die wedstryd weens 'n kuitbesering aan die wedstryd onttrek. Hy is deur Mosese Tuipulotu vervang.
Puntemakers:
Leeus 55 (48): Drieë: Quan Horn, Rabz Maxwane (3), Edwill van der Merwe (2), Rynhardt Jonker, Francke Horn. Doelskop: Kade Wolhuter (3), Morné van den Berg, Sanele Nohamba (2). Strafdoel: Wolhuter.
Edinburgh 21 (0). Drieë: Grand Gilchrist, Paddy Harrison, Ben Muncaster. Doelskoppe: Ben Healy (3).



















