VRK

Skitterend, Leeus!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Emmanuel Tshituka druk een van sy twee drieë. Foto: Gallo Images
Emmanuel Tshituka druk een van sy twee drieë. Foto: Gallo Images

Die Leeus het Saterdagmiddag op Ellispark in Johannesburg - ná twee slegte nederlae in die laaste paar weke oorsee teen die Ospreys (Wallis) en Benetton (Italië) - 'n puik oorwinning oor die Ierse span Leinster behaal.

Hulle het Leinster met 44-12 geklop en hul getroue ondersteuners met 'n lied in die hart huis toe gestuur.

Dit was boonop hul tweede oorwinning oor 'n Ierse span die laaste maand nadat hulle Connacht onlangs ook in Galway, Ierland, streepsuiker gegee het.

Toegegee, dit was nie Leinster, die voorlopers in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK), se beste span nie, maar dit was steeds nie 'n hierjy-span nie. Leinster het tot die einde álles ingesit.

Die Leeus het in die proses 'n bykomende bonuspunt verdien deur ses drieë te druk.

Nadat die amptelike speeltyd verstreke was, was die laaste spyker in die besoekers se doodskis toe Francke Horn, die Leeus se puik agtsteman wat in sy 50ste wedstryd vir die Johannesburgers gespeel het, gaan druk het.

Op dié oorwinning en die bykomende bonuspunt het die Leeus, wat voor die afskop in die 11de plek op die puntelys was, hul kans op 'n plek in die kwarteindronde van die VRK lewend gehou.

Die Leeus het rustyd welverdiend met 22-0 voorgeloop danksy drie mooi drieë in die eerste 13 minute van die wedstryd.

Dit was ironies genoeg 'n jaar gelede op dieselfde veld, dieselfde rustydtelling toe dié twee spanne laas teen mekaar gespeel het.

Toe het Leinster in 'n puik terugvegpoging uiteindelik met 39-36 gewen.

Dié keer het 'n meer ervare Leeus-span met meer diepte as 'n jaar gelede nie kop verloor nie. Die Leeus het Saterdag aangehou jag en hul prooi nie laat wegkom nie.

Hulle het deurentyd soos Trojane verdedig en die geleenthede gebruik wat na hul kant toe gekom het.

Die Leeus se stert was Saterdagmiddag sommer vroeg in die lug toe Morné van den Berg, skrumskakel, binne die eerste halfminuut van die wedstryd gaan druk het.

Emmanuel Tshituka, flank, het twee drieë gedruk en is as Speler van die Wedstryd aan gewys.

Volgende Saterdag wag Munster, die verdedigende VRK-kampioen, ook op Ellispark op die Leeus.

Puntemakers:

Leeus 44 (22): Drieë: Morné van den Berg, Marius Louw, Quan Horn, Emmanuel Tshituka (2), Francke Horn. Doelskop: Sanele Nohamba (2), Jordan Hendrikse (2). Strafdoel: Nohamba (2).

Leinster 12 (0): Drie: Ciaran Frawley (2). Doelskop: Harry Bryne.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM