VRK

Stormers draf Dragons dronk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Wandisile Simelane, senter van die Stormers, duik Saterdag oor vir sy drie in die DHL-stadion in Kaapstad.   Foto: Jaco Marais
Wandisile Simelane, senter van die Stormers, duik Saterdag oor vir sy drie in die DHL-stadion in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Die Stormers het Saterdagaand in Kaapstad se DHL-stadion op sierlike wyse seker gemaak van 'n plek in die kwarteindronde van dié seisoen se Verenigde Rugbykampioenskapsreeks.

John Dobson se troepe het die Dragons - vanjaar se houtlepelspan - in nat toestande met 48-12 geklop. Wen die Kapenaars hul laaste ligawedstryd teen Cardiff eerskomende Vrydagaand, sal hulle verseker wees van die vyfde plek op die puntelys. Dit kan moontlik beteken dat hulle eers in Suid-Afrika bly vir 'n uitspeelwedstryd teen die Haaie. Hoe dit ook al sy, Saterdag se oorwinning bring baie verligting, want dit beteken dat hulle aan volgende seisoen se Kampioenebeker-reeks sal deelneem.

Die Stormers was nieteenstaande die groot telling nie op hul beste nie, maar hulle is ook nie werklik uitgedaag nie. In die tweede helfte het dit begin voel asof hulle met die Walliesers speel.

In die eerste helfte was dit 'n taktiese stryd. Die wedstryd was net 'n minuut en agt sekondes oud toe Wandisile Simelane die Stormers se eerste drie onder die Dragons se pale afrond.

Daarna het dit in 'n eentonige skopstryd verval, met albei spanne wat 'n paar geleenthede verbrou het. Die Stormers se skrumwerk - met Sazi Sandi en die jong loskopstut Vernon Matongo aan die voorpunt - was voor die rustyd uit die boonste rakke en hulle het moeiteloos strafskoppe afgedwing.

Toe die Stormers weer soos hul ou self begin speel, het Seabelo Senatla, wat 'n skeppende hand in Simelane se drie gehad het, afgerond nadat die bal vinnig ingegooi is. Die Stormers se agterspelers het die wydte van die veld pragtig gebruik om Senatla oor te stuur. Sacha Feinberg-Mngomezulu, wat vol planne op losskakel was, het puik uit die hoek verdoel.

Die Stormers was enkele minute voor rustyd vlugtig onder die indruk dat Damian Willemse hul derde drie gedruk het. Groot was die teleurstelling binne die stadion toe die drie nie toegeken is nie. Salmaan Moerat, die Stormers se kaptein, het 'n geel kaart gekry vir 'n voorval in die aanloop. Dit het beteken dat die Stormers die tweede helfte met 14 spelers afgeskop het.

Aaron Wainwright het in Moerat se afwesigheid vir die Dragons afgerond om dit 5-14 te maak. Feinberg-Mngomezulu het kort voor Moerat se terugkeer 'n strafskop oorgeskop voordat Stefan Ungerer hul voorsprong na 22-5 laat rek het. Marcel Theunissen was die argitek van 'n puik lopie nadat die Stormers 'n lynstaanbal by die Dragons gegaps het.

Willemse het eindelik sy drie gekry toe die Stormers die skroewe begin vasdraai het. Daarna het hy ook Suleiman Hartzenberg se drie verdoel.

In die laaste paar minute was die skare op hul voete. Paul de Wet het waarskynlik die mooiste van 'n handvol mooi drieë afgerond voordat Simelane sy tweede in die doodsnikke gekry het.

• Puntemakers: Stormers 48 (14): Drieë: Wandisile Simelane (2), Seabelo Senatla, Stefan Ungerer, Damian Willemse, Suleiman Hartzenberg, Paul de Wet. Doelskoppe: Sacha Feinberg-Mngomezulu (3), Damian Willemse (2). Strafdoel: Feinberg-Mngomezulu. Dragons 12 (0): Drieë: Aaron Wainwright, Dane Blacker. Doelskop: Lloyd Evans.

- stephen.nell@24.com

VRK-GIDS:

• Bepalings

• Puntelys

• Uitslae

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM