Die Leeus was Saterdag net-net nie goed genoeg om die Stormers in hul Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd in die DHL-stadion in Kaapstad te klop nie.
Maar al het die Gautengers dié kragmeting met 24-29 verloor, sal hul afrigter, Ivan van Rooyen, trots wees op hierdie dapper vertoning. In die eerste helfte was hulle loshande die beste span op die veld. Tog sal die teleurstelling groot wees, want hulle het vir die laaste kwart van die wedstryd 'n speler meer op die veld gehad ná die Stormers-blits Angelo Davids se rooi kaart.
Davids kan 'n skorsing verwag vir sy duikslag op Sanele Nohamba met meer as 'n halfuur oor. Die Leeus se Marius Louw het egter op dieselfde tyd 'n geel kaart gekry omdat hy onmiddellik daarna 'n geveg ontketen het deur vir Davids om te stamp.
Ironies het die Stormers toe hul beste rugby van die dag begin speel. 'n Kraglopie deur Evan Roos doellyn toe het hulle 'n voorsprong van 22-21 gegee voor 'n dramatiese laaste kwart van die wedstryd waar die Stormers die knoop deurgehak het.
Die Leeus het hul rustyd-voorsprong van 21-12 ruim verdien. Hulle was propvol ondernemingsgees met die bal in die hand en het ook goed gedoen deur op die Stormers se foute te teer. Jordan Hendrikse het kort ná die afskop reeds met 'n strafdoel aan die besoekers die voorsprong gegee en hulle het daarna 'n antwoord en meer gehad op wat die Stormers hul kant toe gegooi het.
In die proses het hulle die Stormers se gebreke ook lelik uitgewys. Nie vir die eerste keer dié seisoen nie het die Stormers in hul teenstander se kwartgebied gesukkel om hul eie lynstane te wen. Die een keer in die eerste helfte wat Ruben van Heerden daar vir hulle skoon besit kon kry, het André-Hugo Venter van 'n dryfmaalbeweging afgerond.
Op hul beurt het die Leeus 'n slim plan by die lynstane gehad. Twee kort ingooie het vir punte gesorg. Nohamba het eers die bal bo-oor die Stormers se passiewe verdedigingslinie geskop om die weg vir Francke Horn se drie te baan. Later het JC Pretorius gedruk ná nog 'n kort aangee vlak voor die Stormers se doellyn.
Die Stormers het darem tussendeur al die balbesit wat hulle in die eerste helfte weggegee het ook met 'n stukkie sierlike spel vorendag gekom, met Davids wat afgerond het nadat Sacha Feinberg-Mngomezulu by die lyn aangesluit het.
Toe vir die hoogdrama van die tweede helfte. Davids se flater was die voortsetting van die Stormers se swak dissipline in die eerste helfte.
Die Kapenaars het egter in die proses ook hul klas gewys. Dit was asof die rooi kaart iets in hulle wakker gemaak het om goeie rugby te begin speel. Jordan Hendrikse het die Leeus weer die voorsprong gegee met sy vierde strafdoel, maar die Stormers het hul reputasie gestand gedoen as 'n span wat die laaste 10 minute baie goed speel.
'n Skitterende dryfmaalbeweging het vir Adré Smith oor die doellyn gekry vir die drie wat kort voor die einde vir die Stormers die knoop deurgehak het.
Puntemakers:
Stormers 29 (12): Drieë: André-Hugo Venter, Angelo Davids, Evan Roos, Adré Smith. Doelskoppe: Manie Libbok (3). Strafdoel: Libbok.
Leeus 24 (21): Drieë: Francke Horn, JC Pretorius. Doelskop: Jordan Hendrikse. Strafdoele: Hendrikse (4).



















