Die Stormers-blits Angelo Davids is vir drie wedstryde geskors vir sy gevaarlike duikslag op Sanele Nohamba in verlede naweek se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Leeus in die DHL-stadion.
Davids kan sy skorsing egter met 'n week verminder kry deur 'n kursus van Wêreldrugby oor duikslagtegniek te voltooi. Sou hy dit doen, sal hy in die VRK-eindstryd kan speel indien die Stormers tot daar vorder.
Sou die Stormers uitgeskakel word, sal hy die skorsing in klubwedstryde uitdien.

Onder gewone omstandighede sou Davids se straf 'n skorsing van ses weke gewees het, maar daar was versagtende omstandighede - hy het 'n goeie dissiplinêre rekord, het skuld beken en onmiddellik vir Nohamba, die Leeus se losskakel, om verskoning gaan vra.
* Duikslag op video: https://www.youtube.com/watch?v=fY3y5AYXnJw



















