Ben Viljoen van Groblersdal sal volgende kwartaal teen Ellisras in die SDC Noordvaalbeker-eindstryd te staan kom nadat hy Frikkie Meyer van Thabazimbi gister met 26-24 geklop het.
Ellisras het as voorste span in die liga reeds sy plek in die eindstryd verseker.
Die Limpopo-kampioen sal in die Noordvaalreeks se uitspeelronde teen Pumas se derde gekeurde span, Rob Ferreira van Witrivier, sake uitspook. Die Robbies het Ferrum van Newcastle met 23-21 in die uitspeelwedstryd om die derde en vierde plek in Mpumalanga geklop.
Ferrum se slot Neil Collyer het 'n uitmuntende vertoning gelewer.
Die Hoërskool Ermelo is as die Puma-kampioen gekroon nadat hy vir Lydenburg met 31-26 die loef afgesteek het. Die Erries sal teen die Valke se vierde gekeurde span in die uitspeelrondes te staan kom.
Hans Moore van Benoni sal teen Oosterlig in die Valke-eindstryd kragte meet. Hy het vir Brandwag van Benoni met 26-24 in die halfeind verras, terwyl Oosterlig 'n sege van 18-17 oor Hoërskool Sasolburg behaal het.
Die voorste vier spanne in die Blou Bul-liga is ook reeds beslis. Die verdedigende Noordvaal-kampioen, Midstream College, en Bergsig Akademie, HTS John Vorster en Wonderboom is die vier spanne wat sake in die halfeindronde sal uitspook. Midstream College het sy ligaverpligtinge teen Pretoria-Noord met 'n oorwinning van 28-18 afgesluit.
Die span se kantman Niocholas Grobler was uitmuntend met die bal in die hand, asook op verdediging. Hy het ook in die lynstane vir Pretoria-Noord probleme besorg. Wonderboom se Tiere was met 34-3 baas oor Hoërskool Tuine. HTS John Vorster het Centurion met 34-19 verslaan.
In die Oos-Kaap is wedstryde weer deur gure weer in die wiele gery. Queen's College kon op sy tuisveld 'n sege van 20-17 oor St Andrew's College beklink.




















