Die Hoërskool Bredasdorp is vol vertroue dat sy eerste rugbyspan 'n blomjaar kan beleef - geoordeel aan die span se blink vertonings tydens die Landbouskool Oakdale se Klein Karoo Saadproduksie-toernooi gedurende die afgelope vakansie.
Bredasdorp was die enigste van die 34 deelnemende skole wat in al drie sy wedstryde aan die wenkant was. Dit was met oorwinnings oor die hoërskole Westering en Port Rex (albei Gqeberha), asook Volkskool (Graaff-Reinet).
Langenhoven Gim (Oudtshoorn) was saam met Middelburg (Gauteng) en Pearson (Gqeberha) ook onoorwonne, maar het in een wedstryd gelykop gespeel.
Met die Patriotfees by die Hoërskool De Kuilen (wat die jarelange Tony Stoops-toernooi vervang het) is die o.19-span van die Hoërskool Otto du Plessis (Gqeberha) uit die 30 deelnemende spanne aangewys as die topspan. Hierdie span uit die Baai was een van drie spanne wat in al drie hul onderskeie wedstryde aan die wenkant gebly het.
Paarl Gimmnasium, Hoër Jongenskool Paarl en die Landbouskool Oakdale se o.16-spanne was saam met dié van Hilton College (KwaZulu-Natal) bobaas in al drie hul wedstryde tydens die Jean de Villiers-toernooi van die Gimmies. Paul Roos Gimnasium, wat oorwinnings in sy eerste twee wedstryde beklink het, se derde wedstryd is afgelas omdat Potchefstroom Gim met te veel beserings opgesaal was.
Die Wes- en Suid-Kaapse spanne het ook by die HJS Paarl se Frans Malherbe-week die toon aangegee, met Paarl Gim, Paul Roos, Oakdale en Charlie Hofmeyr, saam met die Hoërskool Monument (Krugersdorp), deurentyd aan die wenkant. Die gasheer, die Boishaaiers, het in hul laaste wedstryd naelskraap teen Monument vasgeval.



















