Drie uit drie vir Klofies se eerste krieketspan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Hoërskool Waterkloof se Wian Ruthven was een van sy span se troefkaarte met die kolf vanjaar. Foto: Frans Lombard
Die Hoërskool Waterkloof se Wian Ruthven was een van sy span se troefkaarte met die kolf vanjaar. Foto: Frans Lombard

Die Hoërskool Waterkloof het die afgelope naweek die kroon gespan op 'n uitsonderlike krieketseisoen toe hy die Hoërskool Marais Viljoen in die Fain Noordvaal-kompetisie se eindstryd geklop en sy titel sodoende 'n tweede keer suksesvol verdedig het.

Die Klofies het 'n wegholoorwinning met 171 lopies behaal nadat hy eerste gekolf en 301/9 in sy toegelate 50 boulbeurte opgestapel het.

Marais Viljoen is toe vir 'n skamele 130 in 30.4 boulbeurte uitgeknikker.

Die Klofies se aanvangskolwer Wian Ruthven was aan die spits van hul kolfvertoning en het 117 lopies van 94 aflewerings gemoker om 'n stewige platform vir sy span te skep.

Ruthven en sy aanvangsmaat, Divan Behrens, het duidelik twee uiteenlopende strategieë gehad. Ofskoon dié twee 'n stewige vennootskap van 145 lopies om die eerste paaltjie gehad het, het Behrens net 22 van 68 aflewerings bygedra.

Marcus Bakker (37), Franco Cronjé (36*) en Alexander Volschenk (31) het elkeen ook die telbord aan die rol gehou.

Die Klofies was nie net gevaarlik met die kolf nie, maar ook verwoestend met die bal.

Marais Viljoen was kniediep in die moeilikheid met sy telling op 17/5.

Die Hoërskool Waterkloof se seëvierende eerste krieketspan. Foto: Frans Lombard
Die Hoërskool Waterkloof se seëvierende eerste krieketspan. Foto: Frans Lombard

Hernus Marais, 'n naatbouler van Waterkloof, was verwoestend met die bal en het ná vier boulbeurte met syfers van 5/3 gespog, voordat hy eindelik die wedstryd afgesluit het met 5/13 in ses boulbeurte.

Jaydon Blom het ook goed vertoon met 2/18 in sy 2.4 boulbeurte.

Cayden Ramage (35) en Juan Steyn (28) was die span van Alberton se voorste kolwers.

Die Klofies se eerste krieketspan het vroeër vanjaar ook met die louere gespog in die Titans-liga, sowel as die Westvaal Noord-Suid-kompetisie.

"Dit gaan amper te goed met ons vanjaar," het Cobus Pienaar, die Klofies se kriekethoof, by navraag gesê.

"Ons is baie geseënd. Die ouens se werketiek is uiters goed. My rol is om seker te maak dat die ouens goeie mense is. 'n Goeie spankultuur, harde werk en sukses loop hand aan hand en ons is bevoorreg om so 'n goeie seisoen te kon beleef."

Ofskoon Tristan Luus, een van die span se staatmakers, 'n gedeelte van die seisoen weens 'n dyspierbesering misgeloop het, behoort hy terug te wees as een van die skool se drie verteenwoordigers wat vir die Titans gekies is om op die Khaya Majolaweek te speel. Marais en Bakker is die ander twee Klofies wat die span gehaal het.

SPELETJIES VANDAG

CTA