Twee aartsvyande van Kaapstad se noordelike voorstede, die Hoërskool Durbanville en die Hoërskool Stellenberg, pak mekaar dié week in hul jaarlikse interskole en eersgenoemde se eerste rugbyspan sal Saterdag op sy tuisveld die bordjies wil verhang.
Die Jade Brigade, soos daar na die span van Stellenberg se eerste span verwys word, het verlede jaar met 29-20 geseëvier, maar het 'n groot taak wat op hom wag indien hy weg van die huis af weer só wil maak.

Durbies het in 2019 laas die pyp in dié skole se derbystryde gerook en sodoende 'n lang droogte gebreek.
Hy was op daardie dag in 'n puntefees baas met 46-39.
Tussen 2013 en 2018 was dit egter eenrigtingverkeer met Stellenberg wat elke keer aan die wenkant was, terwyl die spanne in beide 2012 (3-3) en 2011 (23-23) gelykop geëindig het.
Geen kragmetings was in 2020 en 2021 moontlik weens die Covid-19-pandemie nie.
Durbies sal op die veld gelei word deur Evert Bouwer (flank), terwyl Jayden Nell (agtsteman) sy span van besit op die voorvoet wil voorsien. Monray Daars (skrumskakel) se verspreiding agter die oond en sy dartellopies kan help om gevaarmanne soos James Nero (binnesenter) in posisies te kry om toe te slaan.
Vir Stellenberg sal Corné Bruwer (slot) voor uitdraf, terwyl Almero Keizer (haker) ook dopgehou kan word. Agterlangs kan Ruben Thompson (binnesenter) se stryd met sy direkte teenstander ook vir opwinding sorg.
Die suidelike voorstede staal hulle ook vir twee groot kragmetings.
Bishops sal op hul tuisveld, die Piley Rees-veld, die Rondebosch Boys' High School pak in hul tweede kragmeting vanjaar.
Bishops het die eerste wedstryd met 13-8 gewen.
Die Wynberg Boys' High School sal op sy beurt poog om dit twee uit twee in 2023 teen die South African College Schools (Sacs) te maak. Wynberg het die eerste stryd gemaklik met 30-17 gewen, terwyl Sacs 'n uitdagende seisoen beleef en reeds 12 keer die knie gebuig het. Hy sal daarom weg van die huis af vir oulaas vir sy ondersteuners rede wil gee om te glimlag.



















