EG Jansen, Klofies deel louere

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die regtervleuel van St John’s College, Tino Munyurwa, word in sy spore gestuit deur Pretoria Boys’ High se plaasvervanger, Neo Matlaletsa (links), en die span se kaptein en slot, Tshepiso Shikhibana (regs). FOTO: Frans Lombard
Die regtervleuel van St John’s College, Tino Munyurwa, word in sy spore gestuit deur Pretoria Boys’ High se plaasvervanger, Neo Matlaletsa (links), en die span se kaptein en slot, Tshepiso Shikhibana (regs). FOTO: Frans Lombard

Daar is steeds twee onoorwonne spanne oor in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

Die twee onoorwonne spanne, EG Jansen en Waterkloof, het Saterdag in Boksburg met 32-elk gelykop gespeel.

Albei rugbyspanne het ook 'n bonuspunt vir vier drieë verdien.

Die Jansies se vaskopstut, Duwan Potgieter, tel sonder twyfel onder die voorste skolespelers in sy posisie vanjaar.

Hy het weer sy span van voor gelei en sy werkverrigting is sonder weerga.

Buiten Potgieter, het die slot Gerhard van Aswegen en die haker, Danré Pike, ook skitterende vertonings opgedis.

Die Klofies het vroeër vanjaar in Boksburg vir EG Jansen met 45-38 in die doodsnikke van hul NWU-reeks-kragmeting verslaan.

Waterkloof se binnesenter, Happy Makate, was op sy stukke, terwyl die agtsteman, Marko Kok, ook elke keer met die bal in die hand 'n hele paar verdedigers besig gehou het.

Garsfontein het weer sy mojo terug en het 64 punte in die tweede helfte ingeryg om vir Hoërskool Rustenburg met 74-12 af te ransel.

Die Rusties het teen lemoentyd 'n voorsprong van 12-10 op Bere-park gehad. Wat ook al die Turkoois Bere se hoofafrigter, Johan du Plessis, aan sy span gesê het, het gewerk.

Die span se kaptein en binnesenter, Luann Olivier, begin al hoe meer sy voete in die middelveld vind.

Hoewel hy die Ligbloues vir 'n tweede agtereenvolgende jaar as flank op die Cravenweek sal verteenwoordig, lê sy toekoms dalk in die middelveld.

Voorlangs het die flanke Stefan Pretorius en Thinus Oosthuizen uitmuntend vertoon.

Helpmekaar Kollege het met 'n oorwinning van 33-17 oor Noordheuwel in Krugersdorp getoon dat hy ook nog 'n aanspraakmaker in die reeks is.

Die wenspan se vaskopstut, Ulrich van der Merwe, het met sy stormram-lopies sy span deurgaans op die voorvoet gehou.

Indien hy sy vertonings op die Cravenweek later die maand kan voortsit, sal hy 'n sterk aanspraakmaker op 'n Suid-Afrikaanse Skole-trui wees.

Agterlangs het die buitesenter, Ty Ax, 'n uitstekende wedstryd teen die hoog aangeskrewe Cheswill Jooste beleef.

Jooste was verlede jaar een van die voorste heelagters op skolevlak in Suid-Afrika, maar kon nog nie dieselfde spelpeil in die middelveld herwin nie.

Hopelik kan hy tydens die Cravenweek op heelagter weer sy uitsonderlike talent ten toon stel.

Monument het in Alberton vir Marais Viljoen met 64-34 kafgedraf.

Die span van Krugersdorp se flank RJ Barnard het saam met die agtsteman, Vincent Roberts, voorlangs die pap dik aangemaak.

Ernesto Oersen het op buitesenter gewys dat hy ook hier deur sy afrigter, Tjaart van der Walt, ingespan kan word indien nodig.

Oersen, wat gewoonlik vleuel speel, se dartellopies is net so doeltreffend in die middelveld.

In die Kaap se suidelike voorstede het SACS met 'n naelskraapse sege van 30-29 oor Wynberg Boys' High sake goed deurmekaargekrap.

Die wenspan se heelagter, Jack Benadé, het met twee drieë ook vir oulaas tong vir die Westelike Provinsie se keurders uitgesteek.

Rondebosch Boys' High het vir Bishops met 31-16 die loef afgesteek.

SDC NOORDVAAL CUP

  • Groep 1
  • Beker: EG Jansen 32, Waterkloof 32; Helpmekaar 33, Noordheuwel 17; Garsfontein 74, Hoërskool Rustenburg 12; Monument 64, Marais Viljoen 34.
  • Groep 2
  • Blou Bulle: Midstream College 33, Overkruin 27; Centurion 32, Hoërskool Tuine 20; Bergsig Akademie 25, Pretoria-Noord 22; Wonderboom 25, HTS John Vorster 22. Limpopo: Ellisras 25, Frikkie Meyer 22; Hans Strijdom 29, Nylstroom 17; Frans du Toit 33, HTS Tom Naudé 24. Pumas: Ermelo 25, Ferrum 13. Valke: Oosterlig 43, Hoërskool Sasolburg 14; Brandwag (Benoni) 29, Leeuwenhof 19; Hans Moore 50, Driehoek 7.
  • Groep 3
  • Limpopo: Piet Potgieter 31, Northern Academy 21; Louis Trichardt 38, Curro Heuwelkruin 7.
  • KWAZULU-NATAL
  • Durban High School 23, Michaelhouse 10; St Charles College 32, Glenwood 19; Kearsney College 48, Clifton 0; Maritzburg College 26, Hilton College 20; Northwood 30, Westville Boys' High 27.
  • NOORDVAAL
  • Pretoria Boys' High 36, St John's College 24; St Alban's College 42, St Benedict's College 7; Parktown Boys' High 24, St David's Marist 19; Cornwall Hill College 8, St Andrew's (Bloemfontein) 3; Warmbad 76, Stanford Lake College 16.
  • OOS-KAAP
  • Graeme College 31, Dale College 0; HTS Port Rex 21, Cambridge 15; Mary Water 0, Kingswood College II 25.
  • WES-KAAP
  • Rondebosch Boys' High 31, Diocesan College 16; SACS 30, Wynberg Boys' High 29.
Hannes Nienaber

SPELETJIES VANDAG

CTA