Skole

Fees van eindstryde in Noordvaal-reeks

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Hoërskool Garsfontein kan Saterdag die kroon span op een van die beste seisoene in die geskiedenis van sy eerste rugbyspan.

Garsies se Bere kom op hul tuisveld teen die Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg te staan in die eindstryd van die Noordvaal-reeks se Beker-kompetisie.

Garsfontein was tot dusver onoorwonne in dié reeks en hy het vanjaar in altesaam 14 uit 15 wedstryde as oorwinnaar uit die stryd getree. Sy enigste nederlaag was teen die onoorwonne Grey Kollege.

Sy laaste hekkie is egter die onvoorspelbare en opwindende Jansies, wat self vanjaar al skade gemaak het.

Garsies moes diep delf om die laaste wedstryd van die ligafase teen die einste Jansies met 42-36 te wen. As dié twee se speelstyle enige aanduiding is, sal vermaaklike hardlooprugby aan die orde van die dag wees.

Met die betroubare skopskoen van Nicallen Gabrielsen (losskakel), asook Demitre Erasmus (buitesenter) en Jason Hugo (heelagter) se vermoë om munt te slaan uit geleenthede op die aanval, sal Jansies hul keer moet ken.

Die besoekers is egter ook nie sonder hul eie angels nie.

David Twala (heelagter) en Jeandré Jacobs (buitesenter) weet self hoe om af te rond.

• Die Hoërskool Rustenburg wag op sy tuisveld die Hoërskool Kempton Park in om die wenner van die Plaat-kompetisie te bepaal.

Dié twee spanne het ook in hul laaste kragmeting in die ligafase swaarde gekruis met Rusties wat toe gemaklik met 38-15 gewen het.

Eindstryd-rugby is egter 'n perd van 'n ander kleur en die tuisspan kan die Kempies glad nie onderskat nie. Die besoekers sal wel 'n manier moet vind om Rusties se Zulu Khumalo (regtervleuel) hok te slaan.

• In die Skild-kompetisie sal die Hoërskool Oos-Moot sy kroon probeer verdedig teen die gedugte span van die Hoërskool Secunda, wat in sy eerste seisoen in dié afdeling is.

Dít nadat Secunda in 2022 die Bowl-afdeling gewen het en bevorder is.

Secunda het boonop vanjaar boaan die punteleer geëindig en sal poog om sy onoorwonne status teen die span van Waverley, wat hy in die groepfase naelskraap met 44-41 omgedop het, te verdedig.

Die tuisspan sal hoop sy puntemasjien, Luan Lottering (linkervleuel), se visier is ingestel, terwyl Oosies se bielie Ryan Scott (haker) sy uitblinkerspel sal wil voortsit.

• In die Bowl-afdeling staan die Hoërskool Wesvalia in die pad van die Hoërskool Die Anker en 'n onoorwonne veldtog.

Die Anker van Brakpan, wat in die ligafase vir Wesvalia met 36-30 geklop het, is gasheer en kan voor sy tuisskare die trofee lig indien hy sy skitter-spelpeil voortsit.

Wesvalia is egter niemand se slaansak nie en het in die halfeindronde reeds die bordjies teen die Hoërskool Eldoraigne verhang toe hy met 36-20 baas was.

Vir Die Anker is Divan du Plooy (flank) weer fiks nadat hy van 'n enkelbesering herstel het en dié losvoorspeler van die Valke se o. 18-Cravenweekspan sal sonder twyfel onder sy teenstanders wil inklim.

Wesvalia se Teboho Sekonyela (regtervleuel) is sy span se groot gevaarman en sal hoop hy kan die verdediging oopkloof.

Die afskoptye is (tuisspanne eerste):

Beker-kompetisie

15:30: Garsfontein t. EG Jansen

Plaat-kompetisie

12:45: Rustenburg t. Kempton Park

Skild-kompetisie

12:45: Secunda t. Oos-Moot

Bowl-kompetisie

12:45: Die Anker t. Wesvalia

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM