Dit was so hittete of Worcester Gimnasium het 'n derde oorwinning op 'n streep met 'n enkele punt behaal. Dié slag het die skopstewel van die Hoërskool Framesby se Logan Muller egter die laaste sê gehad op die Kearsney College-Paasrugbytoernooi.
Nadat die span van Gqeberha met 19-0 voorgeloop het, het die Worcesteriete in die tweede helfte 'n merkwaardige terugvegpoging van stapel gestuur, maar eindelik net-net tekort geskiet om met 34-36 te verloor.
Worcester se Lorenzo Harmse (heelagter) het twee van sy span se vyf drieë ná die omdraaislag gedruk, terwyl Amaan Adendorff (loskopstut) ook 'n barshou gespeel het.
Die groot agterstand is in 'n voorsprong met 34-26 omskep, maar Framesby het bly veg en Eden Calitz (flank), een van die Oos-Kapenaars se uitblinkers, het uiteindelik oorgebeur, waarna Muller (losskakel) se betroubare korrelwerk sy span met die doelskop en
'n strafdoel in die doodsnikke gered het.
In twee van die langnaweek se grootste opskuddings het die Hoërskool Nico Malan van Humansdorp vir Glenwood High School van Durban met 19-12 uitoorlê, en Westville Boys' High School die Hoërskool Monument van Krugersdorp met 25-22 verras.

Monnas het veral in die eerste helfte die meeste balbesit en gebiedsvoordeel geniet, maar Westville het die meeste gemaak van die enkele kanse wat sy kant toe gekom het en in 'n stadium met 15-0 voorgeloop.
Die Hoërskool Dr. E.G. Jansen het in die tweede helfte vlamgevat om Kearsney met 36-11 pak te gee.
Twee drieë deur Jeandré Jacobs (buitesenter) en die generaal Matt Bergman, wat die toutjies getrek het, het verseker dat die span van Boksburg dit drie uit drie op die toernooi kon maak.
Rondebosch Boys' High School het dit ook vermag met nog 'n sterk vertoning om die Hoërskool Rustenburg met 22-13 om te dop.
Die Hoër Landbouskool Marlow se Gideon Jordaan (losskakel) se persoonlike bydrae van 20 punte het die span van Cradock tot 'n oorwinning met 30-26 oor die Hoërskool Noord-Kaap gelei, terwyl Durban High School min probleme ondervind het om Pearson High School met 31-7 te troef.
- By King Edward VII School (KES) se Paastoernooi het twee drieë deur die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) se plaasvervangerhaker Christiaan Grundling sy span gehelp om Pretoria Boys High School met 24-8 in 'n klipharde kragmeting te troef.
Grundling se tweede - 'n skitter-drie ná die sirene vir die einde van die wedstryd gelui het - het verseker dat die telling die Paarliete ietwat vlei.
Vir Boishaai was Viaan Mentoor (losskakel) en Rubin Dames (flank) op hul stukke, terwyl die Pretorianers se Tumisho Motswi (losskakel) ook tevrede kan voel met sy vertoning.
Die wiele het behoorlik afgekom vir die Hoërskool Ben Vorster in sy nederlaag met 0-38 teen Queen's College. 'n Kookwater vertoning deur die span van Queenstown se Ryan Denston (skrumskakel) het die lewe vir die span van Tzaneen moeilik gemaak.
Jeppe High School for Boys het met 'n oorwinning van 59-6 sy goeie spelpeil teen die Hoërskool Brandwag voortgesit.
Die gasheer het 'n hoër rat gevind om Bishops met 45-8 plat te vee, terwyl Selborne College oor gans te veel skietgoed beskik het in sy sege met 31-3 oor die Hoërskool Eldoraigne.
Dale College was met 30-15 baas teen Parktown Boys' High School en Northwood High School het Hudson Park High School met 40-8 getrap.
- Die Hoër Landbouskool Boland het min genade teenoor die Hoërskool Hans Moore betoon in sy wegholsege met 59-0 by die St John's College-Paastoernooi.
Die span van die Agter-Paarl was met die rustyd reeds met 40-0 in die saal. Wehan Lume (regtervleuel) en Jayden Brits (skrumskakel) het albei twee keer agter die doellyn gedraai, terwyl Pieter Bergh (plaasvervangerlosskakel) ook 'n angel op die aanval was.
Hilton College het met 32-17 die pyp teen die Hoërskool Nelspruit gerook en die Hoërskool Noordheuwel van Krugersdorp het met sjampanjerugby die Bethlehem Voortrekker Hoërskool met 47-3 disnis gespeel.
Brad Brown (agtsteman) en Lindsey Jansen (linkervleuel) het elk twee keer vir die Nories afgerond.



















