Spanne wat volgende jaar teen Grey Kollege se eerste rugbyspan te staan kom, kan maar gerus solank kennis neem van die name van AJ Booysen, Siyabonga Kenny en Lamla Mgedezi.
Dié drie spelers het Maandag op die tweede dag van die NextGenXV Globale Skolerugbytoernooi amok gesaai in Grey Kollege se slagting van 62-0 van Denstone College van Uttoxeter, Engeland, en gewys dat hulle in 2025 in alle waarskynlikheid van dié Bloemfonteinse span se sterre kan wees.

Kenny (linkervleuel) en Mgedezi (heelagter) het met hul vaart met willekeur gapings in die Engelse span se verdediging gevind en vir Denstone spoke laat jaag elke keer wat hulle aan die bal geraak het.
Booysen (agtsteman) het op sy beurt met sy kraglopies die span op die voorvoet gehou.
Nie eens 'n lang onderbreking in spel weens weerlig kon tot Denstone se redding kom nie. Grey Kollege het met rustyd reeds vier keer agter die pale gedraai en kort ná die afskop van die tweede helfte hul voorsprong tot 33-0 vergroot voordat die spanne die veld moes verlaat.
Nadat die spel uiteindelik hervat is, het Grey aanvanklik met rukke en stote gespeel. Sy ritme is duidelik deur die onderbreking versteur. Dit het die span egter nie te lank van stryk gebring nie en vyf verdere drieë het Denstone se doppie op indrukwekkende wyse geklink.
Kenny het 'n driekuns vir sy span behaal, terwyl Booysen twee keer gedruk het en Mgedezi, wat oor die indrukwekkende vermoë beskik om iets uit niks te skep, self met 'n vyfpunter gespog het.
Die Hoër Landbouskool Oakdale se Reinhardt Viljoen (heelagter) het op sy beurt ook die laaste vesting met lof beman in sy span se oorwinning van 45-17 teen die Hamilton-rugbyklub van Groenpunt.
Hy het met skopspel vir Hamilton, wat verskeie Cravenweek-spelers in sy geledere het, onder druk geplaas terwyl die bielie-agtsteman Jacobus de Villiers gewys het dat rugbytalent deur sy gesin se are pomp.
De Villiers, wat twee keer vir sy span gedruk het, is die jonger broer van die voormalige Junior Springbok-kaptein Paul de Villiers.
Die span van Riversdal het op die eerste dag van die toernooi in die doodsnikke voor die Skotse skolespan van die Strathallan School die knie gebuig en was oorgehaal om nie weer te gly nie.
Oakdale het met rustyd reeds met 24-5 voorgeloop en die skroewe in die tweede helfte ingedraai.
CT Vosloo (losskakel) het boonop sy skopstewels gedra. Hy het al ses sy span se drieë verdoel en 'n strafdoel deur die mikke gejaag vir 'n persoonlike bydrae van 15 punte.
In die ander wedstryd het die Grey High School van Gqeberha die Strathallan School in 'n klipharde wedstryd met 17-12 geklop.
• Woensdag se bepalings:
14:00: Grey High School t. Hamilton-rugbyklub; 15:15: Oakdale Landbou t. Denstone College (Engeland); 16:30: Grey Kollege t. Strathallan School (Skotland).
- Wim.Pretorius@24.com










