Indien ervaring en veelsydigheid deurslaggewende faktore gaan wees, is die Westelike Provinsie, Boland en Suidwestelike Distrikte (SWD) se o.19-skolekrieketspanne besonder goed toegerus vir die jaarlikse Khaya Majola-week wat van aanstaande week in die Boland plaasvind.
'n Uitsonderlike kenmerk van al drie spanne is die ervaring in hul geledere.
Die WP en Boland beskik albei oor sewe spelers wat hul unies ook by verlede jaar se toernooi in Potchefstroom verteenwoordig het. Die Boland-span sluit boonop drie spelers in wat verlede jaar lede was van die Wynlanders se span by die Momentum-week vir o.16-spanne in Pretoria.
Die SWD lyk eweneens baie gedug. Vyf van die spanlede was verlede jaar ook by die o.19-toernooi, terwyl 'n verdere vier spelers terselfdertyd die SWD se o.16-span verteenwoordig het.
Die SWD lyk eweneens baie gedug. Vyf van die spanlede was verlede jaar ook by die o.19-toernooi, terwyl 'n verdere vier spelers terselfdertyd die SWD se o.16-span verteenwoordig het.
Beamptes van die drie spanne is - soos verwag kan word - bra lugtig oor hul onderskeie spanne se potensiële welslae. Maar almal is dit eens dat die Wes- en Suid-Kaap deur goed gebalanseerde spanne verteenwoordig sal word.
Intussen is die kapteins van die drie spanne uit die geledere van hierdie strydrosse aangewys. Die leiding sal geneem word deur Juan James (Wynberg Boys' High), Gysbert Wege (die Hoër Jongenskool Paarl) en Thurston Murphy (Bridgton House, George).
'n Interessante besluit met betrekking tot vanjaar se toernooi is dat die wedstryde op al vier dae oor 50 boulbeurte beslis sal word. Daarmee word weggedoen met die voldagwedstryde (wat alte dikwels gedoem is tot onbesliste uitslae), asook die T20-kragmetings wat in die verlede saam met die wedstryde oor 50 boulbeurte op die program was.
'n Ander interessante aspek is dat Namibië nou vir die eerste keer met twee spanne aan die toernooi sal deelneem.
Die program vir die eerste twee dae se wedstryde is:
15 Desember
WP t. Vrystaat (Bergzicht), Boland t. Namibië A (Bolandpark, Paarl), SWD t. Limpopo (Spes Bona-klub), Gauteng t. KwaZulu-Natal Kus (Coetzenburg A), Noord-Gauteng t. KZN Binneland (Paul Roos-ovaal), Oostelike Provinsie t. Noordwes (Coetzenburg B), Noord-Kaap t. Grens Kei (Coetzenburg C), Mpumalanga t. Namibië B (Bridge House-veld), Oostelikes t. Grens (Coetzenburg D).
16 Desember
Boland t. Oostelike Provinsie (Paul Roos-ovaal), WP t. KZN Binneland (Coetzenburg B), SWD t. Namibië B (Coetzenburg D), Gauteng t. Noord-Gauteng (Coetzenburg A), Vrystaat t. KZN Kus (Coetzenburg C), Namibië A t. Grens (Bergzicht), Noordwes t. Oostelikes (Spes Bona-veld), Noord-Kaap t. Limpopo (Bridge House), Mpumalanga t. Grens Kei (Oude Libertas).
Die SWD-span - wat voorheen as die Volstruisboere bekend gestaan het - staan nou op die krieketveld as die Tuinroete Ratels (oftewel Garden Route Badgers) bekend.




















