Gauteng pak WP in eindstryd ná Raichetti se 100-tal

Pranav Raichetti van Gauteng hier in aksie vroeër in die week. Raichetti het Donderdag die eerste 100-tal op vanjaar se Khaya Majola-krieketweek aangeteken.  Foto: Gallo Images
Pranav Raichetti van Gauteng hier in aksie vroeër in die week. Raichetti het Donderdag die eerste 100-tal op vanjaar se Khaya Majola-krieketweek aangeteken. Foto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie sal vandag in die eindstryd van die jaarlikse Khaya Majola-krieketweek (vir o.19-spelers) in Kaapstad teen die verdedigende kampioen, Gauteng, sake uitspook.

Gauteng het ná sy eerste sege van die toernooi op die derde dag by die agterdeur tot die halfeindronde ingeglip. Pranav Raichetti (106*) het die eerste 100-tal van die week aangeteken om sy span tot 'n sege van agt paaltjies oor die Dolphins te help.

Raichetti het 112 aflewerings getrotseer waarvan hy 16 grenshoue gemoker het. Hy en die aanvangskolwer Jason Rowles (75) het 'n vennootskap van 143 lopies om die tweede paaltjie gedeel.

Ross Coetzee (63), die Dolphins se kaptein, beleef tot dusver ook 'n goeie toernooi.

Rowles (2/36) en Cole Francis (3/26) het met die beste boulontledings gespog.

Die WP het in sy halfeindstryd nie veel probleme ondervind om sy buurman met vyf paaltjies te klop nie. Die Boland is vir net 104 uitgeknikker danksy 'n vyftal paaltjies deur Raeeq Daniels (5/25).

Raeeq Daniels vroeër in die week vir die Westelike Provinsie in aksie.  Foto: Gallo Images
Raeeq Daniels vroeër in die week vir die Westelike Provinsie in aksie. Foto: Gallo Images

Christiaan Wege (32) was die enigste kolwer wat weerstand kon bied.

Die gasheer se Kashief Joseph (45) en Adnaan Lagadien (24) het die belangrikste bydraes met die kolf gemaak.

Die Tuskers moes nadat hulle vir net 79 uitgehaal is teen die Oostelike Provinsie gedink het dat 'n promosie-relegasie-wedstryd op hul wag. Die span se draaibouler Chad Mason (5/35) was aan die spits van sy span se oorwinning met 12 lopies met sy tweede vyftal aan paaltjies.

Die OP sal teen die Garden Route Badgers te staan kom om te bepaal wie volgende jaar in die Platinum-afdeling speel. In die ander promosie-relegasie-wedstryd sal die Vrystaat teen Noordwes veg om sy plek in die Platinum-afdeling te behou.

Die Titans het die Vrystaat met 100 lopies verslaan. Die Titans het 211/5 in hul toegelate 50 boulbeurte aangeteken danksy stewige bydraes deur Wian Ruthven (52), Divan de Villiers (48*) en Lethabo Phahlamohlaka (43).

Die Vrystaat kon met slegs 111 lopies hierop antwoord.

Die Garden Route Badgers (150/5) het Krieket Suid-Afrika se uitnodigingspan (146) met vyf paaltjies verslaan.

Camron Avontuur (76) was die wenspan se groot uitblinker met die wilgerlat.

Noordwes het 'n skamele totaal van 109 lopies suksesvol verdedig deur Oostelikes vir net 87 lopies uit te haal.

Marneau Dreyer (3/10), Barend de Klerk (2/28) en Tumelo Makume (2/16) het die meeste skade vir die wenspan aangerig. Oostelikes se Sabelo Mabanga (3/16) en Parth Patel (3/19) het ook uitgemunt.

UITSLAE:

Boland 104 (Christiaan Wege 32; Raeeq Da­niels 5/25, Timothy Short 2/23). Westelike Provinsie 106/5 (Kashief Jospeh 45, Adnaan Lagadien 24; Taywin Adams 2/25, Callum Appollis 2/47). • Westelike Provinsie wen met 5 paaltjies.Dolphins 218/8 (Ross Coetzee 63, Max Robertson 29, Ntando Soni 25; Cole Francis 3/26, Jason Rowles 2/36, Corné Botha 2/59). Sentraal-Gauteng 219/2 (Pranav Raichetti 106*, Jason Rowles 75; Armaan Manack 23; Shahzaad Perumal 1/23). • Sentraal-Gauteng wen met 8 paaltjies.Tuskers 79 (Ekstras 19; Cayden Wilson 4/15, Jadwyn Cona 3/25). Oostelike Provinsie 67 (Cayden Wilson 18; Chad Mason 5/35, Marcel Wellmann 3/8). • Tuskers wen met 12 lopies.Titans 211/5 (Wian Ruthven 52, Divan de Villiers 48*, Lethabo Phahlamohlaka 43, Steve Stolk 27; Vrystaat 111 (Christian Kind 42; Nayleo Sanna 3/32, Mohammed Borobat 2/11, Sahil Ahmad 2/13). • Titans wen met 100 lopies. KSA-Uitnodiging-XI-tal 146 (Vihan Pretorius 31, Zuko Pontshi 24; Enathi Kitshini 3/20, Trent Huisamen 2/15, Stefan May 2/40). Garden Route Badgers 150/5(Camron Avontuur 76, Enathi Kitshini 28; Adam Cannata 2/32).•Garden Route Badgers wen met 5 paaltjies.Noordwes 109(Tumelo Makume 36; Sabelo Mabanga 3/16, Parth Patel 3/19, Tshegofatso Nthara 3/25). Oostelikes 87 (Sabelo Mabanga 37; Marneau Dreyer 3/10, Barend de Klerk 2/28, Tumelo Makume 2/16). • Noordwes wen met 22 lopies.Oos-Kaapse Iinyathi 102 (Tré Gilbert 28; Nicolas Oerlemans 3/28, Morema Kamogelo 2/4, Mahlodi Sekuba 2/31). Limpopo-Impalas 103/5 (Enock Marima 41*, Nicolas Oerlemans 29; Lithemba Nomoyi 3/24).

• Limpopo Impalas wen met 5 paaltjies.

Noord-Kaap 163 (Junaid Jacobs 49, Ekstras 31; Sibonelo Skhosana 3/23, Alonzo Blakenberg 2/22). Mpumalanga 122 (Ekstras 20; Nathan Baird 4/38, Simon Liversage 2/23). • Noord-Kaap wen met 41 lopies.

Hannes Nienaber

SPELETJIES VANDAG

CTA