Cilliers Viljoen, jou doring!
Viljoen, die haker van Boland Landbou, het gister in die doodsnikke van sy span se interskole teen Oakdale Landbou in Riversdal gaan druk om sy span van 'n sege van 17-11 te verseker.
Voor Cilliers se drie het dit gelyk of Oakdale met die telling op 11-10 die span van die Paarl se goeie vertonings die laaste paar weke met 'n nederlaag sou bederf.
• In die noorde het die vreugdevure hoog gebrand by Garsfontein, nadatá hulle 'n sege van 29-20 oor Helpmekaar Kollege behaal het in die halfeindronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Garsies se Bere het nog nie vanjaar in dié reeks verloor nie en is met goeie rede die gunsteling vir die titel. Hulle was boonop nog net een keer vanjaar aan die verloorkant - tydens die Wildeklawer-toernooi teen Grey Kollege (9-23).
Garsies se heelagter, Jason Hugo, was uitstaande. Daar was 'n tydperk in die eerste helfte wat dit amper gevoel het of hy op slot, flank, binnesenter en heelagter diens doen. Die bal het hom oral gevolg en hy het elke geleentheid benut.
Garsies kom in die eindstryd teen EG Jansen van Boksburg te staan. Die Jansies het Waterkloof in die ander halfeindstryd in 'n winderige Boksburg met 25-5 geklop.
• Midstream College is vir die tweede agtereenvolgende jaar as kampioen van Groep 2 van die Noordvaal-reeks gekroon. Wat vanjaar se titel ekstraspesiaal maak, is dat die span vanjaar al sy wedstryde in dié reeks weg van die huis moes wen.
• Die span van Midrand het Bergsig in Rustenburg met 20-15 verslaan om sy kroon te behou.
• In die kragmeting tussen Grey Kollege en Paul Roos Gimnasium in Bloemfontein het die tuisspan se agtsteman, Keagan Scholtz, die oog getref.
Scholtz, wat gewoonlik aan die kant van die skrum sak, moes sy kaptein, JJ Theron, se tokse op agtsteman volstaan - en het dit met oorgawe gedoen. Grey het die kragmeting (sonder ses van sy nasionale o. 18-spelers) met 28-20 gewen en daarmee ook sy seisoen onoorwonne afgesluit.
• In die Kovsiestreek-kompetisie sal Welkom Gimnasium teen die Hoërskool Upington in die eindstryd van die Shimla-liga kragte meet. Albei het oortuigende seges oor onderskeidelik Jim Fouché (55-5) en Fichardtpark (53-19) behaal.
Enkele uitslae:
- SDC NOORDVAAL CUP
- GROEP 1 - HALFEINDSTRYDE
- Beker:Garsfontein 29, Helpmekaar 20; EG Jansen 25, Waterkloof 5. Plaat:Hoërskool Rustenburg 24, Hoërskool Middelburg 3; Kempton Park 29, Transvalia 29. Skild:Secunda 50, Ligbron Akademie 17; Oos-Moot 25, Heidelberg Volkskool 5.Bowl:Die Anker 49, Merensky 3; Wesvalia 36, Eldoraigne 20.
- GROEP 2-5 - EINDSTRYDE
- Groep 2:Midstream College 20, Bergsig 15.Groep 3: Vryburg 30, Bastion 24.Groep 4: Bekker 30, Allen Glen 22.Groep 5A: Heilbron 33, Westonaria 29.Groep 5B:Koster 55, Schweizer-Reneke 10.
- OOS-KAAP
- VRYSTAAT/GRIEKWAS
- Grey Kollege 28, Paul Roos Gimnasium 20.
- KOVSIESTREEKKOMPETISIE - HALFEINDSTRYDE
- Shimla-liga: Welkom Gimnasium 55, Jim Fouché 5; Hoërskool Upington 53, Fichardtpark 19. Irawa-liga: Wilgerivier 64, Brandfort 0; St Andrews (Bloemfontein) 37, Hartswater 36.
- WES-KAAP
- Boland Landbou 17, Oakdale Landbou 11; Rondebosch Boys' High 21, Wynberg Boys' High 20; Bishops 27, SACS 25; Charlie Hofmeyr 19, Robertson 19; Brackenfell 29, Tygerberg 19; DF Malan 27, Hoërskool Bellville 24; Worcester Gimnasium 50, Hermanus 0; Swartland 18, Hugenote (Wellington) 3; Curro Langebaan 70, Curro Durbanville 0; Porterville 28, Piketberg 12.
.




















