Wag een van die seisoen se groot opskuddings of gaan die Grey-masjien voort stoomroller?
Sommiges sal reken dat dié vraag elke keer gevra word as die Vrystaatse skolerugbyreus op die veld draf, maar wanneer jy die toonaangewende span is, dan het jy outomaties 'n teiken op jou rug.
Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) ruk die naweek op na Bloemfontein en sal hoop om die spanne van 2005, 2013 en 2015 na te doen en Grey Kollege se partytjie in die Rosestad te bederf.
Grey is egter tans op 'n indrukwekkende segetog met Paarl Gimnasium (12-33), die Hoërskool Outeniqua (17-19), die Hoërskool Garsfontein (9-23) en die Hoër Jongenskool Paarl (30-39) wat maar net vier van die tien spanne is wat hul vanjaar teen die Vrystaters vasgeloop het.
Affies beleef tot dusver 'n wisselvallige seisoen - hulle het reeds vier keer die aftog geblaas - en draf sonder twyfel as buiteperd op.
Dit sal die 46ste kragmeting tussen die twee skole wees met die eerste een wat in 1923 beslis is. Affies was nog net ses keer aan die wenkant, met hul laaste in 2015.
Die louere is al vyf keer gedeel met die mees onlangse gelykop uitslag in 2001. In daardie jaar het Bismarck du Plessis en Francois van der Merwe vir Grey uitgedraf, terwyl AB de Villiers, Derick Kuün en Cliff Milton in Affies se geledere was.
• In die Noordvaal-reeks se Beker-afdeling kom die Wes-Rand tot stilstand wanneer die Hoërskool Noordheuwel gasheer speel vir die Hoërskool Monument in 'n vurige Krugersdorpse stryd.
Dit is 'n spesiale geleentheid vir Monnas se hoofafrigter, Tjaart van der Walt, wat vir die 100ste keer aan die stuur van sake by die Wit Bulle is.
Sedert kragmetings tussen dié skole in 2019 hervat is, was Monnas nog elke keer aan die wenkant. Nories kon laas in 2001 (20-18) vir Monnas troef. Die voormalige Springbok-buitesenter Jaque Fourie het daardie dag vir die verloorspan uitgedraf.
Die Hoërskool Menlopark het 'n appeltjie te skil met die Hoërskool Waterkloof nadat hy verlede jaar naelskraaps met 6-7 die onderspit gedelf het.
Menlo het in sy eerste twee wedstryde van die kompetisie teen Helpmekaar Kollege (15-75) en Garsfontein (6-48) pak gekry en sal desperaat wees om op die wenpad te kom.
Klofies het ook teen Garsies (21-50) vasgeval, maar toe in Mbombela vir die Hoërskool Nelspruit (28-24) omgedop.
Helpmekaar Kollege van Johannesburg kom op hul beurt in Boksburg teen die Hoërskool Dr. EG Jansen te staan.
Helpies het reeds met Nories (42-32) en Menlo klaargespeel, en sal die bordjies teen Jansies wil verhang. Jansies was in 2022 (26-12) en 2021 (47-24) baas met die Johannesburgers wat laas in 2019 (48-33) die oorhand kon kry.
In Alberton wag die Hoërskool Marais Viljoen vir Nelspruit se Rhinos in.
• In die Wes-Kaap wag nog 'n wraakstryd wanneer Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch sal wil vergoed vir verlede jaar se nederlaag teen die Rondebosch Boys' High School, terwyl Boland Landbou vir Bishops in die Agter-Paarl aandurf.
Paarl Gimnasium kom teen Sacs te staan en hul bure, die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai), kruis swaarde met die Wynberg Boys' High School.
Die Hoërskool Stellenberg van Bellville sal op hul stukke moet wees teen die Hoër Landbouskool Oakdale van Riversdal en die Hoërskool Tygerberg staal hulle vir 'n stryd teen die Hoërskool Parel Vallei.




















