Dit was 'n groot oomblik vir Grey Kollege in Bloemfontein toe die Wêreldbeker-trofee hier uitgestal is en die Proteas se span aangewys is vir die Wêreldbeker-toernooi wat op 5 Oktober in Indië begin.
Die Grey-seuns het hul helde onder leierskap van kaptein Temba Bavuma met dreunsang en die Grey-kreet afgesien. Die seuns het daarna met die trofee voor die skool geposeer.

Gerald Coetzee, die enigste Protea-speler in die Wêreldbeker-span wat bande met Bloemfontein het, sê hy het hoendervel gekry toe die seuns die Grey-kreet vir die spelers uitgevoer het.
Coetzee was tot in gr. 9 in Grey Kollege voordat hy na die buurskool St. Andrews is. Hy onthou dié oomblikke in die Reüniesaal baie goed.
Die leerlinge het in lang toue gewag om hul helde se handtekeninge te kry.
Drie van Grey se eerstekrieketspanspelers sê hulle bars skoon uit hul nate van opgewondenheid oor die span se besoek aan hul skool.
Samu Lephoto (18), 'n veelsydige speler wat veral die kolf kan swaai, sê dit is die grootste voorreg om sy helde in lewende lywe te kan sien.
"Dit skep net 'n gevoel wat 'n mens nie kan beskryf nie."

Darion Rabie (17), draaibouler van die eerste span, sê sy held in die span is Keshav Maharaj.
"Sy leierskap is inspirerend, asook die manier hoe hy weet om die spel te lees."
Dale Williams (17), 'n linkerhandse aanvangskolwer vir Grey se eerste span, sê sy held is die Protea-kolwer Quinton de Kock, wat ook links kolf en die beurt vir Suid-Afrika begin.
Hy sê hy is veral bly dat die jonger kinders die dag kon beleef.


"Hulle kyk op na die spelers en nou kan hulle hul helde in lewende lywe sien," sê dié aanvangskolwer.
Die Protea-snelbouler Anrich Nortjé sien ook daarna uit om vanjaar in sy eerste Wêreldbeker-toernooi te speel.
Hy is reeds in 2019 vir die span gekies, maar moes onttrek nadat hy sy regterduim verstuit het tydens 'n oefening in Gqeberha kort voor die toernooi daardie jaar.
Vra jy hom hoe hy sy vingers vanjaar gaan beskerm, lag hy lekker.

"Wel, ek gaan beslis nie weer by die nette op St. George-park kolf nie."
"Dit is vanjaar my eerste keer en dis 'n grote vir ons as 'n span. Ons sien baie uit daarna."
Hoewel die span nie onlangs baie wedstryde saam gespeel het nie, sê Nortjé hulle ken mekaar almal goed en weet waar almal "inval".
"Almal is ook baie opgewonde oor die nuwe afrigters. Dis 'n groot geleentheid vir ons almal, so ons sien baie uit."
Rob Walter, die span se afrigter, het die verkose spelers se name bekend gemaak.




















