Skole

Midstream wéér Noordvaal se Afdeling 2-koning

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Midstream College is vir die tweede jaar agtereenvolgens as die kampioen in Afdeling 2 van die Noordvaal-reeks gekroon nadat hy Bergsig Akademie in Rustenburg in 'n titaniese stryd met 20-15 verslaan het.

Met minder as drie minute se speeltyd oor, en die telling gelykop met 15-15, het Jaedon de Leeuw (heelagter) in die hoekie oorgeseil ná 'n briljante "hoendervlerk"-uitgee deur Anru Cronjé (binnesenter) om die tuisspan se harte te breek.

Die Midstream College se Justin Hattingh (buitesenter) slaan 'n bres teen die Bergsig Akademie in die eindstryd van Afdeling 2 van die Noordvaal-reeks. Foto: Marius Nortjé
Die Midstream College se Justin Hattingh (buitesenter) slaan 'n bres teen die Bergsig Akademie in die eindstryd van Afdeling 2 van die Noordvaal-reeks. Foto: Marius Nortjé

Dié drie het die kroon gespan op 'n merkwaardige seisoen vir die span van Olifantsfontein, wat al sy wedstryde in dié reeks - in Thabazimbi, Ermelo, Potchefstroom en Rustenburg - weg van die huis af moes wen.

Min het die spanne van mekaar geskei, met die besoekers se Kobus Alberts (linkervleuel) se onverdoelde drie en 'n strafdoel deur Bergsig se Simeon Botha (losskakel) wat die enigste ander punte van die eerste helfte was.

Die voortou het verskeie kere in die tweede helfte hande verwissel met die plaasvervanger Alzandro dos Santos en Dewald Potgieter (slot) wat vir die tuisspan afgerond het, terwyl Mika Lubbe (haker) ook vir Midstream oorgebars het.

Cronjé moet uitgesonder word. Hy het eers onlangs van flank na binnesenter geskuif en homself so goed van sy taak gekwyt dat hy in die span se laaste drie wedstryde die nr. 12-trui behou het. Hy was deurlopend gevaarlik met die bal in die hand.

• In Afdeling 1 se Beker-kompetisie sal die Hoërskool Garsfontein en die Hoërskool Dr. E.G. Jansen mekaar in die eindstryd pak.

Garsies het met 'n oorwinning van 29-20 die Helpmekaar Kollege van Johannesburg se aanslag beëindig en sal die eindstryd as die groot gunsteling binnegaan.

Jason Hugo (heelagter) het twee van die Garsies se vier drieë gedruk, terwyl die skopstewel van Nicallen Gabrielsen (losskakel) nege punte bygedra het.

Jansies het die Hoërskool Waterkloof in Boksburg met 25-5 uitgeskakel, met Cameron van Wyk (linkervleuel) wat ook 'n tweekuns aan drieë behaal het.

• Die Hoërskool Kempton Park het danksy 'n tegniese reël sy plek in die eindstryd van die Plaat-kompetisie bespreek nadat hy met 29-29 gelykop teen die Hoërskool Transvalia van Vanderbijlpark gespeel het.

Indien twee spanne gelykop speel in 'n uitklopronde, bepaal die reëls van die kompetisie dat die span wat die meeste drieë gedruk het, deurdring.

Kempies het vyf keer agter die doellyn gaan kuier teenoor Transvalia se vier.

Twee drieë deur beide Brendon Gerber (haker) en Preston Smith (vaskopstut), tesame met Adriaan Labuschagne (agtsteman) se vyfpunter, het toe vir Kempies die deurslag gegee.

Hulle sal nou die onoorwonne Hoërskool Rustenburg in die eindstryd aandurf.

Rusties het die Hoërskool Middelburg met 24-3 kafgedraf.

• Met 'n vurige vertoning deur Ryan Scott (haker) het die Hoërskool Oos-Moot seker gemaak van sy plek in die eindstryd van die Skild-kompetisie deur die Hoër Volkskool Heidelberg met 25-5 te troef.

Scott was 'n doring in die vlees van sy teenstanders by die afbreekpunte en het ook vir sy span gedruk.

Oosies staal hulle nou vir 'n afspraak om die titel met die Hoërskool Secunda, wat op sy beurt oor hopeloos te veel skietgoed vir die Ligbron Akademie beskik het in sy wegholsege van 50-17.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM