Die Bulle moes vir die derde keer op 'n streep die onderspit delf teen die Westelike Provinsie in die hoofwedstryd van die o. 18-Cravenweek-toernooi.
Die Streeptruie het met 'n afgeronde vertoning die gapings in die Pretorianers se strukture ontbloot in die eerste helfte om Saterdag eindelik met 29-5 te seëvier op 'n sopnat veld in die Outeniquapark-stadion in George.
Met sy reusepak voorspelers en gevaarlike agterlyn op hul stukke, het die WP vyf keer agter die doellyn gedraai voordat die fluitjie vir rustyd geblaas is.
Drieë deur Justin Amos, Divan Fuller, Gino Cupido, Scott Nel, JC Mars het teen die omdraaislag die Bulle met 'n groot berg gelaat om uit te klim.
Ofskoon die Ligbloues geen verdere punte afgestaan het in die tweede helfte nie, kon hy self net 'n enkele keer oorbeur vir sy enigste punte van die wedstryd.
Mars, wat die verdediging telke male na lug laat gryp het, is welverdiend agterna as die Agterspeler van die Toernooi gekroon.
• Die Oostelike Provinsie het ook die toernooi onoorwonne afgesluit nadat hy die Haaie met 33-22 omgedop het.
Ballo Hlekani (flank) het sy derde skittervertoning van die toernooi gelewer en is met reg agterna as die Speler van die Toernooi aangewys.
Agterlangs het Dominic Malgas (losskakel) homself ook as een van sy span se sterre onderskei.
• Die Vrystaat het sy toernooi op 'n hoogtepunt afgesluit deur vir die Leeus met 40-21 streepsuiker te gee.
Aan die voorpunt van hierdie sege was 'n agttal op die voorvoet met Marno Stopforth (slot) wat voor gelei het. Hy is goed bygestaan deur die kaptein JJ Theron (agtsteman) en Keegan Scholtz (flank), terwyl Ian van der Merwe (losskakel) agterlangs takties uitgetroon het.
Van der Merwe het die week met 42 punte agter sy naam afgesluit.
Vir die Leeus het Jamaal Feldman (flank) en Rynhardt van der Linden (buitesenter) moedig probeer.
• 'n Doodsnik-drie deur Brendan Gouws (plaasvervanger-haker) en die daaropvolgende koelkop-doelskop vanuit die hoek deur Elgernon Meyer (skrumskakel) het die Suidwestelike Distrikte naelskraap met 27-26 deurgesien teen die Westelike Provinsie-vyftiental.
SWD se Jay-Jay Daters (regtervleuel) kan tevrede met sy pogings op die toernooi voel en het afgesluit met twee drieë in sy span se laaste kragmeting.
• Die Luiperds se Lebogang Wageng het vier keer afgerond toe sy span die Limpopo Bulle se tjank met 51-26 afgetrap het.
Wageng het die toernooi met sewe drieë afgesluit, die meeste van enige speler.
• Nie eens die Griffons se Ronaldo Kiewiet (losskakel) se driekuns aan drieë was genoeg om sy span te red teen Grens nie.
Grens het dié tweestryd met 29-20 beklink nadat hy teen lemoentyd met 24-10 in die saal was.
'n Pluimpie vir die Perses is dat Fano Linde (agtsteman) as Voorspeler van die Toernooi aangewys is.
• Boland moes soos tiere verdedig om die Pumas met 28-24 te oorkom, terwyl die Valke vir Griekwas met 29-14 getroef het.
Puntemakers:
Westelike Provinsie 29 (29): Drieë: Justin Amos, Divan Fuller, Gino Cupido, Scott Nel, JC Mars. Doelskoppe: Kyle Smith (2). Bulle 5 (0): Drie: Shaun Schürman.
Oostelike Provinsie 33 (26): Drieë: Leonard Booysen, Wilhelm Meyer, Sibabalwe Booi, Sinengomso Brawen, Achumile Mnandi. Doelskoppe: Dominic Malgas (4). Haaie 22 (19): Drieë: Maurice Willemse (3). Doelskoppe: Chris Horak (2). Strafdoel: Horak
Vrystaat 40 (14): Drieë: Marno Stopforth (2), JJ Theron, Benito Goeda, Ian van der Merwe, Jean Erasmus. Doelskoppe: Van der Merwe (5). Leeus 21 (14): Drieë: Ceano Everson, Jamaal Feldman, Rynhardt Van Der Linden. Doelskoppe: Daylon Myners (2), JT Kapank.
Suidwestelike Distrikte 27 (15): Drieë: Therlow Prins, Jay-Jay Daters (2), Brendan Gouws. Doelskoppe: JT Strydom, Elgernon Meyer. Strafdoel: Strydom. Westelike Provinsie-vyftiental 26 (14): Drieë: Juma Amissi, Bibo Makwedini, JT George, Samuel Badenhorst. Doelskoppe: David Simon, Lee-Jay Petersen (2).
Grens 29 (24): Drieë: Jordan Luck, Bubbles Mtshini, Landile Gidi, Lwanele Gaba, Jed Stone. Doelskoppe: Daniel Larkan (2). Griffons 20 (10): Drieë: Ronaldo Kiewiet (3), Andi Mentz.
Valke 29 (21): Drieë: Michael Devy, AJ Roux, Jeandre Jacobs, Oregopotse Shilubane. Doelskoppe: Duan du Toit (3). Strafdoel: Du Toit. Griekwas 14 (7): Drieë: Heinrich Nel, Emlyhn Jacobs. Doelskoppe: Elridge Jack (2).
Luiperds 51 (28): Drieë: Lebogang Wageng (4), Hennoh Visser, Hanré Venter, David Ndala, Adriaan Liebenberg, Junior Kuhn. Doelskoppe: Leonard Bevan. Limpopo Bulle 26 (7): Drieë: Pule Sebolao (2), Drikus du Plessis, Andrew Steamer. Doelskoppe: Byron Hendricks (2), Waldie Haasbroek.
Boland 28 (14): Drieë: Darius Venter, Brendon September, James Daniels, Carick Kustoor. Doelskoppe: Luan Giliomee (3), Thabo Jansen. Pumas 24 (14): Drieë: Ryan Venter, Zander Erasmus, Cornelius Lottering. Doelskoppe: Erasmus (2), Lottering. Strafdoel: Lottering.





















