Toe doen die WP se rugbyspanne dit weer.
Die Streeptruie se o.18-, o.16- en o.13-span is andermaal as die topspanne aangewys by hul onderskeie nasionale toernooie die afgelope skoolvakansie.
By die o.18-Cravenweek in George was die Kapenaars vir die soveelste jaar die topspan nadat hulle klaargespeel het met die Suidwestelike Distrikte (42-12), KwaZulu-Natal (35-24) en Pretoria se Blou Bulle (29-5). Van die 16 spanne by die saamtrek was die WP saam met die Oostelike Provinsie die enigste groepe wat in al drie hul wedstryde aan die wenkant was.
Hoewel die SWD teen die WP vasgeval het, het die Arende klaargespeel met Oos-Gauteng se Valke (22-19) en die WP B-span (27-26), terwyl die Boland eweneens goed gevaar het met oorwinnings oor die Valke (26-19) en Mpumalanga (28-24). Die Wynlanders het net teen die pronkspan van die OP met 26-40 die knie gebuig.
WP se B-span het in al drie sy wedstryde - die ander teen KwaZulu-Natal en die Vrystaat - verloor.
By die Grant Khomo-week vir o.16-spanne op die velde van die Landbouskool Boland het die jong Streeptruie skitterend gevaar.
Die WP se A- sowel as B-span was albei onoorwonne - die enigste van die 20 spanne wat deurentyd aan die wenkant gebly het.
Die A-span het Boland, die Blou Bulle en Leeus geklop, terwyl die B-span die meerdere was van Vrystaat B, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Die Boland en SWD het albei net een van hul drie wedstryde gewen.
Die WP se o.13-span was by die penkoppe se Cravenweek in Pietermaritzburg die enigste van die 18 betrokkenes wat strykdeur aan die wenkant gebly het: 29-7 t. OP, 24-5 t. die Leeus, 24-15 t. die Bulle en (in die hoofwedstryd op dag vier) 10-8 t. die Boland.
Die Boland het ewe uitstekend vertoon met oorwinnings oor Griekwaland-Wes (28-0), Mpumalanga (24-10) en KwaZulu-Natal (27-10) - vandaar dat die jong Wynlanders die voorreg gegun is om met die afsluiting in die hoofwedstryd teen die WP te kon speel - en toe ook die WP-kannetjies goed skrikgemaak het.
Suidwestelike Distrikte kon spog met oorwinnings oor Zimbabwe (48-0) en Grens (42-12), een gelykop-uitslag en die enkele nederlaag van 7-18 teen die Bulle.




















