Skole

WP stoomroller voort; OP bly ook op wenpad

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
JC Mars (heelagter) van die Westelike Provinsie en die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) was ’n doring in die Haaie se vlees. Foto: Frans Lombard
JC Mars (heelagter) van die Westelike Provinsie en die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) was ’n doring in die Haaie se vlees. Foto: Frans Lombard

Die Westelike Provinsie het Woensdag sy lang segetog in o. 18-Cravenweek-wedstryde voortgesit toe hy met 35-24 oor die Haaie in die Outeniquapark-stadion in George geseëvier het.

Albei spanne het alles in die stryd gewerp, maar die WP se vermoë om sy kanse klinies te benut, het eindelik die deurslag gegee.

Die Streeptruie se JC Mars (heelagter) het nogmaals na vore getree as 'n speler om dop te hou, met sy vermoë om gapings in die verdediging oop te kloof, wat van hom 'n groot gevaarman maak.

Twee van sy breekslae het juis op drieë vir Haashim Pead (skrumskakel) en Jameel de Jongh (linkervleuel) uitgeloop.

Yaqeen Ahmed (losskakel) het met sy taktiese spel sy span op die voorvoet gehou, terwyl Xola Nyali (flank) voorlangs uitgetroon het. Ahmed het boonop 15 punte met sy skopstewel bygedra.

Die Westelike Provinsie en Bishops se Gilermo Mentoe (regtervleuel) het een van die Streeptruie se drieë teen die Haaie gedruk. Foto: Frans Lombard
Die Westelike Provinsie en Bishops se Gilermo Mentoe (regtervleuel) het een van die Streeptruie se drieë teen die Haaie gedruk. Foto: Frans Lombard

Vir die Haaie het Phiwo Kubheka (loskopstut) sy kant gebring, terwyl Vuyo Gwiji (flank) en Chris Horak (losskakel) ook met hul vertonings tevrede kan voel.

De WP se laaste nederlaag in dié toernooi was in 2017 - teen die Vrystaat - en hy spog nou met 11 oorwinnings op 'n streep.

• Die Oostelike Provinsie is self steeds onoorwonne in vanjaar se toernooi nadat hy in 'n opwindende kragmeting die Boland met 40-26 uitoorlê het.

Die Oostelike Provinsie en Hoër Landbouskool Marlow se MC Strydom sweef soos ‘n arend vir sy drie teen die Boland. Foto: Frans Lombard
Die Oostelike Provinsie en Hoër Landbouskool Marlow se MC Strydom sweef soos ‘n arend vir sy drie teen die Boland. Foto: Frans Lombard

Die wenspan se twee flanke, De Wet Fourie en Ballo Hlekani, het hul goeie spelpeil voortgesit, terwyl Aiden de Villiers (losskakel) ook tevrede kan voel met sy spel.

Die Boland sal egter voel dat die eindtelling nie 'n getroue weerspieëling van die wedstryd is nie. Sy senterpaar, Carick Kustoor en James Daniels, het elk twee drieë gedruk, maar dit was helaas nie genoeg nie.

• Die Vrystaat het ná sy verrassende nederlaag teen die OP op die eerste dag van die toernooi sy frustrasies op die Westelike Provinsie-vyftiental uitgehaal.

Die Vrystaat en Grey Kollege se Pieter van der Merwe (binnesenter) wys hakskene teen die Westelike Provinsie-vyftiental. Foto: Frans Lombard
Die Vrystaat en Grey Kollege se Pieter van der Merwe (binnesenter) wys hakskene teen die Westelike Provinsie-vyftiental. Foto: Frans Lombard

Die Vrystaters het 'n drastiese verbetering getoon en agt drieë ingeryg om die Streeptruie se B-span met 54-14 af te slag.

Die lostrio van Jean-Henri Smith, Keegan Scholtz en JJ Theron het veral inklimspel gelewer, terwyl Stefan Venter (haker) ook gewoel het.

Agterlangs was Ian van der Merwe (losskakel), wat sewe doelskoppe oorgeklits het, baie meer gemaklik in sy voorkeurposisie nadat hy die laaste vesting teen OP moes beman. Hy het die toutjies getrek en sy skopwerk vanuit die hand was dodelik akkuraat.

• Die Suidwestelike Distrikte (SWD) het in 'n doodsnik-drama met 22-19 oor die Valke geseëvier.

Die Suidwestelike Distrikte en Hoërskool Outeniqua se Jay-Jay Daters (regtervleuel) word deur die Valke se Oregopotse Shilubane geduik terwyl AJ le Roux toekyk. Foto: Frans Lombard
Die Suidwestelike Distrikte en Hoërskool Outeniqua se Jay-Jay Daters (regtervleuel) word deur die Valke se Oregopotse Shilubane geduik terwyl AJ le Roux toekyk. Foto: Frans Lombard

Die Valke het so byna die tuisspan se partytjie ook bederf nadat hy op die eerste dag teen die WP vasgeval het, maar swak dissipline deur die besoekers het SWD terug in die stryd gebring nadat hy met 5-19 agter was.

'n Rooi kaart en twee geel kaarte in die tweede helfte het die Valke duur te staan gekom en toe hy met net 40 sekondes oor op die horlosie sy eie lynstaan op sy doellyn verloor, was daar perde.

Kurt Coetzee (plaasvervanger-binnesenter) het daaruit munt geslaan en SWD van verdere rooi gesigte gespaar.

Puntemakers:

Westelike Provinsie 35 (27): Drieë: Haashim Pead, Jameel de Jongh, Justin Amos, Gilermo Mentoe. Doelskoppe: Yaqeen Ahmed (3). Strafdoele: Ahmed (3). Haaie 24 (14): Drieë: Liam Terblanche, Phiwo Kubheka, Maurice Willemse. Doelskoppe: Chris Horak (3). Strafdoel: Horak.

Oostelike Provinsie 40 (20): Drieë: De Wet Fourie (2), MC Strydom, Burrie van Heerden, Imaani Pemba, Dominic Malgas. Doelskoppe: Lucraine Muggels, Malgas. Strafdoel: Muggels, Malgas. Boland 26 (12): Drieë: James Daniels (2), Carick Kustoor (2). Doelskoppe: Luan Giliomee (3).

Vrystaat 54 (42): Drieë: Christiaan van der Westhuizen, Ranon Fouché, JJ Theron, Jean-Henri Smith, Pieter van der Merwe, Stefan Venter, Keegan Scholtz, Phiwe Mkunjana. Doelskoppe: Ian van der Merwe (7). Westelike Provisie-vyftiental 14 (0): Drieë: Louw du Toit, Daniel van der Merwe. Doelskoppe: JT George (2).

Suidwestelike Distrikte 22 (5): Drieë: Brendan Gouws, Jay-Jay Daters, Keenan Jantjies, Kurt Coetzee. Doelskop: Elgernon Meyer. Valke 19 (11): Drieë: Lynghe Pretorius, Oregopotse Shilubane. Strafdoele: Duan du Toit (3).

Donderdag se program:

10:30: Griekwas t. Limpopo Bulle

12:00: Grens t. Pumas

13:30: Griffons t. Luiperds

15:00: Bulle t. Leeus

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM