Die voormalige Argentynse verdediger Luis Galvan, 'n lid van die span wat in 1978 sokker se Wêreldbeker-trofee verower het, is Maandag in die ouderdom van 77 oorlede, het die Argentynse Sokkervereniging (AFA) gesê.
Plaaslike media het berig dat Galvan weens longontsteking etlike weke in die Reina Fabiola-kliniek in Cordoba deurgebring het.
"Die AFA en sy hele leierskorps betuig innige meegevoel met sy familie en vriende gedurende dié moeilike tyd," het die vereniging Maandag in 'n verklaring gesê.
Galvan het in 1978 in die Wêreldbeker-eindstryd in Buenos Aires gespeel wat Argentinië met 3-1 teen Nederland gewen het.
Hy het Argentinië ook in 1982 in die Wêreldbeker-toernooi in Spanje verteenwoordig. Galvan het altesaam 34 wedstryde vir die nasionale span gespeel. Hy het in 1983 uit die internasionale spel getree.
Galvan het aanhou speel vir die klub waarby hy as seun aangesluit het, Talleres de Cordoba, en 'n klubrekord van 503 verskynings oor 17 seisoene heen behaal.
Galvan se Argentynse span was die eerste wat die Wêreldbeker-trofee omhoog kon hou. Argentinië het daardie triomf met nog WB-glorie in 1988 (Mexiko) en 2023 (Katar) opgevolg. -Reuters





















