Sokker

Broos bou Bafana se diepte uit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ronwen Williams, doelwagter en kaptein van Bafana Bafana, sal weer ’n sleutelspeler teen Namibië en die DRK wees.Foto: Getty Images
Ronwen Williams, doelwagter en kaptein van Bafana Bafana, sal weer ’n sleutelspeler teen Namibië en die DRK wees.Foto: Getty Images

Hugo Broos, afrigter van die Suid-Afrikaanse mansokkerspan, het vyf veranderinge aangebring aan Bafana Bafana se groep wat Marokko in Junie met 2-1 geklop het in die kwalifiseringsreeks vir die Afrikabeker-toernooi.

Broos het egter gesê hoewel dit belangrik is om kontinuïteit met die SA groep te behou, is dit ook net so belangrik om 'n groot spelersgroep te hê.

Suid-Afrika speel in September in die Orlando-stadion twee vriendskaplike wedstryde teen Namibië (9 September) en die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK, 12 September) voordat hy ook Eswatini en die Ivoorkus die stryd aansê.

"Die veranderinge wat ons gemaak het, was nodig omdat sommige spelers tans met beserings sukkel. Dit gee ons egter die kans om ander spelers te gebruik en te kyk hoe veral jonger spelers by die Bafana-familie inpas," het Broos bygevoeg.

Die Belgiese afrigter het gesê hy het nou reeds die kern van die groep wat hy in November wil gebruik wanneer Bafana Bafana met sy Wêreldbeker-kwalifiseringsveldtog begin.

"Die wedstryde wat ons nou speel, is baie belangrik. Dit gaan ons nie net met WB-wedstryde help nie, maar ook om ons reg te kry vir die Afrikabeker-toernooi volgende jaar in die Ivoorkus."

Volgens Broos moet Banyana Banyana se skitterende vertoning in die WB-toernooi in Australasië gebruik word om Bafana Bafana aan te spoor om ook in Januarie en Februarie in die Afrika-toernooi uit te blink.

Hugo Broos, afrigter van Bafana Bafana, Woensdag by die bekendmaking van sy groep van 23 vir die vriendskaplike wedstryde teen die DRK en Namibië. Foto: Gallo Images
Hugo Broos, afrigter van Bafana Bafana, Woensdag by die bekendmaking van sy groep van 23 vir die vriendskaplike wedstryde teen die DRK en Namibië. Foto: Gallo Images

"Ons fokus is om verby die groepfase te beweeg, want daarna is enigiets moontlik."

Broos het verduidelik waarom hy nie een van die drie spelers gekies het wat tans hul klubsokker in Amerika speel nie.

"Beserings het 'n groot rol gespeel. Spelers wat nie dié groep gehaal het nie, is egter nie heeltemal uitgesluit nie. Onthou, net 23 spelers kan gekies word en natuurlik gaan daar vrae wees oor spelers wat nie ingesluit is nie."

Broos sê spelers kan ook nie verwag om net in die nasionale span te stap nie. "Hul ingesteldheid en houding speel ook 'n baie groot rol. Spelers word deur die jaar goed dopgehou en dit gaan nie net oor hul vertonings op die veld nie. Maar een van die belangrikste punte is dat spelers wel deur hul klubs gebruik moet word en nie heeltyd op die plaasvervangersbank moet sit nie.

"Die sprong van klubspeler na 'n internasionale een is groot en nie almal kan dit suksesvol doen nie. Daarom moet daar versigtig te werk gegaan word met die kies van spelers."

Die SA breier het veral met groot lof gesels oor die Mamelodi Sundowns-doelwagter, Ronwen Williams. Volgens Broos bly Williams sy eerste keuse as doelwagter, met Veli Mothwa van AmaZulu in die tweede plek en SuperSport United se Ricardo Goss in die derde posisie.

• SA groep van 23: Doelwagters: Ronwen Williams, Veli Mothwa, Ricardo Goss; Verdedigers: Sydney Mobbie, Thabiso Monyane, Grant Kekana, Nkosinathi Sibisi, Aubrey Modiba, Siyanda Xulu, Mothobi Mvala, Innocent Maela. Middelskakels: Luke le Roux, Teboho Mokoena, Grant Margeman, Bathusi Aubaas. Doelskieters: Mihlali Mayabela, Themba Zwane, Kobamelo Kodisane, Percy Tau, Zakhele Lepasa, Lyle Foster, Lebo Mothiba, Monnapule Saleng.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM