Sokker

Fifa-baas vra optrede ná Afcon-chaos

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gianni Infantino, grootbaas van Fifa, oorhandig die trofee vir die topdoelskieter van die Afrikabeker-toernooi aan Brahim Diaz van Marokko.
Senegal v Morocco - Final - Africa Cup Of Nations Gianni Infantino, grootbaas van Fifa, oorhandig die trofee vir die topdoelskieter van die Afrikabeker-toernooi aan Brahim Diaz van Marokko. (Foto: Getty Images)

Die beheerliggaam vir sokker in Afrika (CAF) het gebeure in die eindstryd van die Afrikabeker-toernooi (Afcon) tussen die gasheer, Marokko, en Senegal ten sterkste veroordeel en gesê ná ’n ondersoek sal sterk opgetree word teen enigiemand wat skuldig bevind word aan wangedrag.

Die eindstryd het kort voor die einde in chaos ontaard nadat eers ’n doel van Senegal nie toegeken is nie en kort daarna ’n strafskop aan die gasheer toegeken is.

Senegal het uiteindelik met 1-0 gewen nadat Edouard Mendy, sy doelwagter, die strafskop gekeer het wat deur Brahim Diaz waargeneem is. ’n Doel in bykomende speeltyd deur Pape Gueye het gesorg dat Senegal vir die eerste keer sedert 2021 weer sukses proe in dié toernooi.

Gianni Infantiono, president van sokker se internasionale beheerliggaam (Fifa) wat ook die wedstryd in die Prince Moulay Abdellah-stadion in Rabat bygewoon het, het teen “sommige spelers van Senegal” uitgevaar oor die onsmaaklike voorvalle wat die span se sege ontsier het.

Nadat Marokko die strafskop gekry het, was daar ’n groot stryery en Pape Thiaw, afrigter van Senegal, het sy spelers beveel om die veld te verlaat.

"Ons veroordeel die gedrag van sommige ondersteuners, asook sommige Senegalese spelers en beamptes. Dis onaanvaarbaar van die spelers om die veld só te verlaat," sê Infantino in ’n verklaring aan AFP.

"Ons kan ook nie geweld in ons sport toelaat nie. Dis nie reg nie," sê hy.

Die wedstryd het in ’n grootskaalse stampery en stotery ontaard nadat Marokko, met die telling op 0-0, ’n strafskop gekry het nadat Diaz in die doelgebied neergevel is.

Sadio Mané het sy spanmaats aangeraai om terug op die veld te kom en hy moes later selfs kleedkamer toe hardloop om van hulle daar te kry en te oortuig om terug op die veld te kom.

Van die ondersteuners van Senegal het ook probeer om die speelveld te betree en verskeie onderonsies het op die paviljoene uitgebreek.

Die wedstryd is byna 20 minute lank vertraag.

Infantino sê spanne moet die skeidsregters se beslissings aanvaar.

“Ons moet altyd die skeidsregters se beslissings op en van die veld aanvaar. Spanne moet op die veld meeding en hou by die reëls van die spel.”

Dié soort gedrag stuur die verkeerde boodskap oor sokker uit, sê Infantino. “Dis die verantwoordelikheid van die spanne om die regte boodskap uit te stuur en vir die spelers om reg op te tree, aangesien miljoene mense oor die hele wêreld heen dié wedstryde dophou.”

Die Fifa-baas sê hy verwag nou dat die CAF die nodige stappe sal doen om seker te maak sulke dinge gebeur nie weer nie en die skuldiges word gestraf.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM