Real Madrid het nuwe spelers en 'n nuwe afrigter, en wil weer die beste klub in die wêreld word.
Met verskeie nuwe spelers benader Madrid die nuwe seisoen met vars hoop onder die onlangs aangestelde afrigter Xabi Alonso, en wil die klub oor begin ná 'n teleurstellende einde aan die Carlo Ancelotti-era.
Die voormalige Liverpool- en Los Blancos-middelveldspeler Alonso het by die Wêreldbeker-klubtoernooi in Amerika hierdie Europese somer gesien dat daar baie werk is om te doen, veral ná Paris Saint-Germain Madrid met 4-0 in die halfeindstryd geklop het.
"Dinge gaan anders wees; ons begin van voor af," het Alonso gesê, hoewel sommige van sy indrukke gevorm tydens die toernooi ongetwyfeld sy benadering sal beïnvloed.
Madrid-ondersteuners het ook hul eerste kykie gekry na die Spaanse afrigter se planne, en na die Engelse verdediger Trent Alexander-Arnold.
Alonso het taktiese buigsaamheid getoon deur 'n vierman- sowel as drieman-verdediging in te span, terwyl sy voorganger, Ancelotti, geneig was om met vier verdedigers te speel en gekritiseer is omdat hy nie aanpasbaar genoeg in wedstryde was nie.
In teenstelling hiermee is Alonso gretig om aanpassings te maak in wedstryde indien hy kan, insluitend met die posisionering van sy spelers, en hy wil toesien dat sy span almal gereed is om te verdedig en druk toe te pas.
"Ons het almal nodig en wil hê almal moet verdedig - die 11 spelers op die veld moet altyd verdedigend betrokke wees," het Alonso tydens die toernooi gesê, toe hy spesifiek gevra is oor die ster-aanvallers Vinicius Junior en Kylian Mbappé.

"Hulle moet weet hoe ons druk wil toepas, en daarsonder sal dinge baie ingewikkeld wees," het Alonso voortgegaan.
"Vini, Jude Bellingham, Fede Valverde, Mbappé - die aanvallers voor moet almal ook verdedig."
Alonso streef na die balans wat Ancelotti verlede seisoen nie kon vermag ná Mbappé se aankoms van PSG af nie.
Hoewel die Franse superster 43 doele onder Ancelotti aangeteken het, was dit nie genoeg om 'n Madrid-span te inspireer wat die seisoen sonder 'n groot trofee afgesluit het nie, terwyl Barcelona La Liga en die twee ander Spaanse bekers gewen het.
Mbappé het 'n maagaandoening gehad wat hom uit Madrid se groepwedstryde in die Wêreldbeker-klubtoernooi gehou het, en sy eerste wedstryd terug was die nederlaag teen PSG.
"Ons moet selfkrities wees, maar dit sal ook as 'n riglyn dien vir waar ons moet verbeter," het Alonso gesê.
Sal Alonso die formule kan ontsluit vir Mbappé en Vinicius om saam te werk? Daar moet ook gesien word of Rodrygo nog deel van die afrigter se planne
is met Arsenal en ander klubs wat belangstel.
Madrid gaan dié seisoen vir die eerste keer in meer as 'n dekade sonder Luka Modric wees en die Kroaat se ervaring en gehalte sal gemis word.
Los Blancos se hoop is dat die Turkse middelveldspeler Arda Güler sake soos Modric sal kan beheer.
"Die afrigter probeer om ons meer beheer oor die spel te gee, en dis beter vir my," het Güler gesê.
Die 20-jarige behoort baie kanse te kry om te speel aan die begin van die seisoen met Jude Bellingham wat tot ongeveer middel Oktober op die kantlyn is ná 'n skoueroperasie.
Alexander-Arnold het hom ook al reeds tuisgemaak.
Die verdediger, wat hom voor die einde van sy kontrak van Liverpool af by die klub aangesluit het sodat hy in die Wêreldbeker-klubtoernooi kon speel, voeg verdere gehalte op die aanval by in 'n Madrid-groep wat daarvan oorloop.
Madrid hoop dat Dean Huijsen kan help om sommige probleme op die verdediging op te los, terwyl álvaro Carreras en Franco Mastantuono hulle ook by die klub aangesluit het, met Los Blancos wat hierdie somer meer as €170 miljoen (R3,5 miljard) bestee het.
Die ervare verdediger Dani Carvajal se terugkeer van 'n langtermyn-kniebesering is nog 'n stukkie goeie nuus vir Madrid en Alonso, wat hoop om "ambisieuse" wedstryde met "emosie en energie" te speel en wil hê die wêreld moet weer oor Real Madrid se sokker praat.




















