Australië het sy status as die voorste span in wêreldnetbal gestand gedoen toe hy Sondagaand die eindstryd in die Statebondspele gewen het.
Die Aussies het Jamaika met 55-51 geklop om sy vierde Statebondtitel te wen.
'n Skitterende Aussie-span het só ook die 1 000ste goue medalje vir sy land in die geskiedenis van die Statebondspele gewen - oor alle sportsoorte.
Dié span het ook die eerste span geword wat die titel wen nadat hy 'n groepwedstryd verloor het.
Jamaika het die Aussies vroeër met 57-55 geklop.
Die Australiese Diamonds moes daarna vir Engeland, die verdedigende kampioen, in die halfeindronde uitskakel om die eindstryd te haal.
Hulle het dit Saterdag gedoen met 'n oorwinning van 60-51 oor die Rose.
In die eindstryd was sake ná die eerste helfte gelykop met 29-29 elk.
Die Aussies het daarna 16 doele behaal teenoor die Sunshine Girls se 10. In die laaste kwart het Jamaika 12 doele teenoor 10 behaal, maar die wenspan kon die knoop deurhak.

Die Aussie Gretel Bueta het van doel na hulpdoel geskuif en met 37/37 steeds 'n doelgemiddelde van 100% gehandhaaf.
Jhaniele Fowler was self skitterend op dreef, maar dié keer kon sy nie die wa deur die drif trek vir Jamaika nie.
Sy was die mees akkurate doel in die toernooi met 97,2%. Bueta was tweede met 96,2%.
Suid-Afrika se Ine-Marí Venter beklee die vyfde plek met 87,9% ná die Kiwi Grace Nweke (91,6%) en Eleanor Cardwell van Engeland (92,0%).
Nieu-Seeland het die bronsmedalje gewen met 'n oorwinning van 55-48 oor Engeland.
Dit was die Silwervarings se eerste medalje sedert 2014.
Uganda het vyfde geëindig en Suid-Afrika sesde.












