Blitsbokke begin met sege in Statebondspele

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Selvyn Davids, hier in ’n Wêreldreeks-wedstryd in Spanje in aksie vroeër vanjaar, het Vrydag een van die Blitsbokke se drieë teen Maleisië gedruk. Foto: Gallo Images
Selvyn Davids, hier in ’n Wêreldreeks-wedstryd in Spanje in aksie vroeër vanjaar, het Vrydag een van die Blitsbokke se drieë teen Maleisië gedruk. Foto: Gallo Images

Die Blitsbokke het met 'n knal uit die blokke by die Statebondspele gekom deur Maleisië in hul eerste wedstryd te oorrompel.

Suid-Afrika het Vrydag agt drieë gedruk om met 46-0 in Coventry te wen. Angelo Davids het 'n driekuns aan drieë gedruk.

Teen die rustyd was die telling reeds 22-0 in die wenspan se guns.

Maleisië is egter nie die beste maatstaf vir die Blitsbokke se peil nie. Die Suid-Afrikaners het te veel vaart en planne vir hul teenstander gehad.

Daar was wel foute aan die Blitsbokke se kant. So byvoorbeeld het een van Selvyn Davids se afskoppe oor die kantlyn getrek en Ronald Brown het die bal by geleentheid aangeslaan.

Desnieteenstaande sal die Suid-Afrikaners bly wees om met 'n oorwinning te begin. Hulle het 'n paar stukkies goeie spel opgedis.

In 'n verrassing het Zain Davids die Blitsbokke op die veld gelei. Siviwe Soyizwapi, wat gewoonlik die span aanvoer, was nie in die opdrafspan nie.

Soyizwapi het later op die veld gegaan. Hy het die Blitsbokke se eerste drie in die tweede helfte gedruk.

• Puntemakers: Suid-Afrika 46 (22): Drieë: Angelo Davids (3), Muller du Plessis, Selvyn Davids, Siviwe Soyizwapi, Dewald Human, Zain Davids. Doelskoppe: Ronald Brown (2), Human. Maleisië 0.

• Ander uitslae: Australië 62, Jamaika 0; Kenia 27, Uganda 14; Nieu-Seeland 63, Sri Lanka 5; Samoa 34, Engeland 0.

• Die Blitsbokke se volgende wedstryd is om 21:48 teen Tonga.

SPELETJIES VANDAG

CTA