Statebondspele

G’n sprake van uittree, sê Ntutu ná goue wedloop

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ndodomzi Ntutu vier sy titel in die 100 m (T11/12) op die Statebondspele in Birmingham.  Foto: Getty Images
Ndodomzi Ntutu vier sy titel in die 100 m (T11/12) op die Statebondspele in Birmingham. Foto: Getty Images

Moenie dink Ndodomzi Ntutu gaan vinnig sy spykerskoene wegpak nie, selfs al het hy Donderdagaand op die ryp ouderdom van 36 sy titel op die Statebondspele suksesvol verdedig.

Dié spoedvraat is Suid-Afrika se eerste kampioen in atletiek op vanjaar se byeenkoms in Birmingham, waar hy die vaandel as die gunsteling met trots gedra het in die 100 m (T11/12) vir atlete met 'n siggestremdheid.

Hy het die eerste plek in 10.83 sekondes opgeraap, al moes hy werk daarvan maak om in te haal nadat hy stadig uit die blokke was.

Ntutu was in die uitdunne ook die vinnigste van al die deelnemers in 10.89 sek.

En agterna was die voormalige Paralimpiese silwermedaljewenner sommer dadelik gereed om enige gedagtes van uittree ter syde te stel.

"Nee! Enige vrae oor my uittrede kan julle nog 'n paar jaar eers vir julself hou," het hy skertsend ná sy pragtige oorwinning gesê.

"Ek sal dit een jaar op 'n slag neem en na my liggaam luister. As my lyf nie meer wil nie, dan moet jy dit respekteer."

Al was die resies in 'n oogwink verby, het Ntutu verskeie emosies ervaar en moes hy koelkop bly toe hy in 'n stadium gevoel het of hy swaar trek.

"Die wegspring is een van die belangrike aspekte waaraan gewerk is, maar iewers in die middel van die resies het ek byna 'n spoedhobbel getref en moeg geraak. Ek het egter kalm gebly en vandag kan ek hier staan met 'n tyd van 10.83 sek. agter my naam, wat my naasbeste tot dusver is. Ek is so trots op myself," het Ntutu verder gesê.

Zachary Alexander Shaw (silwer), Ntutu, Ananias Shikongo (brons) en sy gids, Even Tjiuiju. Foto: Getty Images
Zachary Alexander Shaw (silwer), Ntutu, Ananias Shikongo (brons) en sy gids, Even Tjiuiju. Foto: Getty Images (MICHAEL STEELE)

Nadat dinge verlede jaar nie op die Paralimpiese Spele in Tokio uitgewerk het nie, sê Ntutu dat die aanloop tot die skouspel in Birmingham nie ideaal was nie.

"Hierdie jaar was tot dusver taai. Ek weet ek het twee kinders en my vrou na wie ek moet omsien, en terselfdertyd moet ek luister en hoor wat my afrigter sê in terme van wat gedoen moet word en wanneer dit gedoen moet word.

"Die oefenprogram was nogal moeilik vanjaar. Ek moes my afrigter glo en in God vertrou dat dinge binnekort beter sou raak."

Dinge het toe, minstens op die atletiekbaan, perfek vir Ntutu uitgedraai, en hy het twee van die drie beste tye van sy loopbaan in Birmingham aangeteken.

"Vandag is ek hier en het twee keer in twee dae tye van onder 10.90 aangeteken. Dit is 'n groot oomblik vir my," het hy bygevoeg.

Engeland se Zachary Shaw het silwer gewen in 10.90, terwyl die Namibiër Ananias Shikongo, wat met 'n gids gehardloop het, met brons tevrede moes wees.