Knie hou Lenize uit Statebondspele

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Protea-doelskieter Lenize Potgieter strek in Mei om ’n bal te vang in die Thunderbirds se wedstryd teen die Firebirds in Adelaide.  Foto: Getty Images
Die Protea-doelskieter Lenize Potgieter strek in Mei om ’n bal te vang in die Thunderbirds se wedstryd teen die Firebirds in Adelaide. Foto: Getty Images

Suid-Afrika se ster-doelskieter Lenize Potgieter sal vir die tweede agtereenvolgende keer die Statebondspele misloop.

Netwerk24 verneem Potgieter (28) het nie mediese klaring van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) gekry om van volgende week aan die sportskouspel in Birmingham, Engeland, deel te neem nie.

Mediese ondersoeke en 'n skandering het gewys sy het las van 'n kniebesering.

Dít is hoekom sy nie vandeesweek in die toetsreeks teen Wallis in aksie was nie.

Die Proteas het die Walliesers in Cardiff met 2-0 geklop.

Potgieter het die vorige Spele in 2018 in die Goudkus in Australië weens 'n enkelbesering misgeloop. Sy het laas in November 2020 teen Malawi vir Suid-Afrika gespeel.

Sy het verlede jaar weens persoonlike redes nie vir die Proteas gespeel nie.

Potgieter, wat vanjaar vir die Adelaide Thunderbirds gespeel het, het 81 toetse op haar kerfstok.

Die Matie-hulpdoel Nicholé Taljaard is Donderdag na Suid-Afrika se twaalftal vir die Spele opgeroep.

Ine-Marí Venter is nou die eerste keuse op doel, met die 21-jarige groentjie Elmeré van der Berg haar adjudant.

Ine-Marí Venter (regs) Woensdag in die tweede toets teen Wallis in Cardiff. Foto: Getty Images
Ine-Marí Venter (regs) Woensdag in die tweede toets teen Wallis in Cardiff. Foto: Getty Images

Lefébre Rademan is die eerste keuse op hulpdoel met Van der Berg wat ook in dié posisie kan speel.

Die Proteas het Wallis met 61-44 en 57-47 geklop, maar Dorette Badenhorst, die SA afrigter, was glad nie tevrede met haar span se vertonings nie.

"Ons moet groter verantwoordelikheid op die baan neem en ons spelpeil lig as ons die topspanne wil klop.

"Ons besluitneming op die aanval was nie goed nie," sê Badenhorst oor Woensdag se tweede toets.

"Ons moet meer doele behaal met ons senterafgooie en omgekeerde besit.

"Die verdediging was ook nie goed nie, ons moet by die wedstrydplan hou en seker maak ons hou ons teenstander onder druk."

Badenhorst het die tweede toets met ander kombinasies begin om te sien hoe 'n speler sal vaar as sy in die beginspan is.

"Dit is maklik om op die baan te gaan as jou span 15 of meer doele voorloop. Ons wou sien hoe iemand van die begin af sou vaar," sê sy.

Die Proteas se eerste teenstander op 30 Julie in die Spele is Jamaika.

Hulle vertrek Vrydag na Birmingham.

SPELETJIES VANDAG

CTA