Lenize gaan spanmaats van voor haar TV ‘afrig’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lenize Potgieter in Mei in ’n wedstryd vir die Adelaide Thunderbirds.  Foto: Getty Images
Lenize Potgieter in Mei in ’n wedstryd vir die Adelaide Thunderbirds. Foto: Getty Images

Sy gaan hulle fyn dophou en hul selfone toegooi met boodskappe, of hulle haar insette wil hê, of nie.

Dit is die boodskap wat Protea-doelskieter Lenize Potgieter (28) aan haar netbalspanmaats by die Statebondspele in Birmingham het.

Potgieter gaan vir die tweede agtereenvolgende keer die sportskouspel weens 'n besering misloop.

Dié ster-doelskieter, wat vanjaar vir die Adelaide Thunderbirds in die Australiese Superliga gespeel het, het verlede week déjà vu ervaar toe die Protea-spanbestuur haar inroep vir 'n "geselsie".

"Ek het gelag en gesê die vibe wat ek nou kry, is dieselfde as vier jaar gelede toe Norma Plummer en Nicole Cusack my ingeroep het.

"Innis (Erasmus, hoëprestasie-bestuurder) sê toe ons moet oor iets praat. Toe begin ek huil, ek kon dit nie glo nie."

'n Kniebesering het beteken die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) kon haar nie mediese klaring gee om deel te neem nie en sy moes terugkeer huis toe.

"Toe ons in Bath voorberei het, het ons weer 'n skandering gedoen en die resultate was dieselfde as dié van Australiese dokters vroeër vanjaar."

'n Enkelbesering het Potgieter vier jaar gelede uit die Statebondspele in die Goudkus, Australië, gedwing.

Potgieter het Sondagoggend in Johannesburg geland en het reeds Dinsdag 'n afspraak by dr. Daan du Plessis in Pretoria gekry.

"Hy vra toe wanneer ek geopereer wil word. Toe word dit sommer Woensdagoggend gedoen."

Die doelskieter sê haar knieë was "nog nooit perfek nie", en dit was seker 'n wekroep dat sy daarna moes laat kyk.

"Die kraakbeen van my linkerknie was weggekalwe en dit was basies been op been. Kraakbeendeeltjies het agter die knie gaan sit, wat beteken het dat dit opswel en seer word."

Potgieter sal in Polokwane by haar ouerhuis saam met die fisioterapeut Anerett Grey rehabilitasie doen.

Sy hoop om in September weer vir die Proteas te kan speel.

Intussen gaan sy haar spanmaats luidkeels voor die televisie ondersteun.

Die Proteas begin Saterdagaand hul veldtog in die Statebondspele teen Jamaika.

Potgieter sê sy sou graag lid van die groep wou wees om die jong hulpdoele Elmeré van der Berg (21) en Nicholé Taljaard (25) te mentor.

"Hulle het baie potensiaal en talent, maar moet nog emosioneel groei en wedstrydtemperament aanleer. Dit is hul eerste keer op internasionale vlak."

Die doelskieter sê 'n groot uitdaging wag op Suid-Afrika met drie moeilike wedstryde ná mekaar.

"Jamaika en Barbados is baie fisiek en voel soos Afrika-teenstand. Australië is meer gestruktureerd en takties en die beste in die wêreld.

"Die spelers sal die volgende paar dae baie goed bestuur moet word."

Potgieter gaan nie volgende jaar na die Thunderbirds terugkeer nie. Sy onderhandel nog met 'n ander klubspan.

SPELETJIES VANDAG

CTA