Netbal: Proteas val vas in eerste wedstryd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bongwie Msomi, aanvallende vleuel van Suid-Afrika, probeer die bal afneem by Latanya Amoy Wilson, Jamaika se hulpdoelverdediger, in die spanne se Groep A-wedstryd Saterdag by die Statebondspele.  Foto: Getty Images
Bongwie Msomi, aanvallende vleuel van Suid-Afrika, probeer die bal afneem by Latanya Amoy Wilson, Jamaika se hulpdoelverdediger, in die spanne se Groep A-wedstryd Saterdag by die Statebondspele. Foto: Getty Images

Dit was nie die droombegin wat Suid-Afrika se netbalspan by die Statebondspele wou hê nie.

Jamaika het die spanne se Groep A-wedstryd Saterdagaand oortuigend met 68-49 gewen.

Die Suid-Afrikaners het gehoop om 2015 se heldedade by die Wêreldbeker-toernooi in Liverpool te herhaal toe hulle Jamaika met 55-52 geklop het.

Hulle het hulle egter vasgeloop teen gedissiplineerde en vasberade Sunshine Girls met die 33-jarige super-doelskieter Jhaniele Fowler aan die spits.

Fowler speel haar klubnetbal vir West Coast Fever in die Australiese Superliga en is einde verlede jaar as die Speler van die Reeks aangewys.

En aan die ander kant van die baan was die skitterende verdedigers Shamera Sterling en Latanya Wilson.

En in die middel die spelskepper Nicole Dixon-Rochester.

Die Proteas het in die eerste kwart te veel foute begaan en gesukkel om die bal in hul doelsirkel te kry.

Voordat hulle tot verhaal kon kom, was die doeleverskil 11 op 7-18.

Suid-Afrika soek nog die regte vennoot saam met Phumza Maweni (hoofdoelverdediger).

Nicola Smith (eerste kwart) en Zanele Vimbela (tweede kwart) is in tandem met Maweni (hoofdoelverdediger) ingespan. Shadine van der Merwe, die verdedigende vleuel, is in die derde kwart daar ingespan voordat sy teruggeskuif is.

Stacey Francis-Bayman van Engeland (links) en Malawi se Joyce Mvula stry Saterdag om balbesit in hul wedstryd in Groep B.  Foto: AP
Stacey Francis-Bayman van Engeland (links) en Malawi se Joyce Mvula stry Saterdag om balbesit in hul wedstryd in Groep B. Foto: AP

Smith (22) is in die vierde kwart weer opgeroep en sal meer tyd saam met Maweni gegun moet word.

Maweni is in die laaste kwart van die baan af met 'n kuitbesering.

Elmeré van der Berg (21) het haar kans op hulpdoel saam met Ine-Marí Venter met albei hande aangegryp.

Die rustydtelling was 37-19, maar die Proteas het nie gaan lê nie en die laaste kwart met 18 doele teenoor 14 gewen.

Dit sal hulle selfvertroue gee voor Sondag se tweede wedstryd teen Barbados.

Van der Merwe en Khanyisa Chawane (plaasvervanger-senter) het in hul 50ste toets gespeel.

• Ander uitslae:

Groep A: Australië 95, Barbados 18; Jamaika 72, Wallis 43; Australië 83, Skotland 30.

Groep B: Engeland 74, Trinidad&Tobago 22; Nieu-Seeland 79, Noord-Ierland 20; Engeland 66, Malawi 41.

• TV: Sondag 15:00 (SS 208).

SPELETJIES VANDAG

CTA