Drome van 'n medalje in 2023 se Wêreldbeker-toernooi op tuisbodem het Vrydag soos mis vir die Suid-Afrikaanse netbalspan verdwyn.
Nie die Kaapse mis nie, maar in Birmingham, Engeland, op die Statebondspele.
Die Proteas het skande gemaak en sesde geëindig nadat hulle hul uitspeelstryd teen Uganda met 48-54 verloor het.
Suid-Afrika het in 2010 in Delhi, Indië, en in 2014 in Glasgow, Skotland, ook sesde geëindig.
Daarna was daar 'n verbetering en in 2018 het die Proteas vyfde geëindig in die Goudkus in Australië.
In 2019 se Wêreldbeker-toernooi het die Proteas die halfeindronde gehaal en eindelik vierde klaargemaak.
Al daardie vooruitgang is die afgelope week ongedaan gemaak.

Die Proteas het verlede jaar drie keer met die She Cranes afgereken, maar was Vrydag loodvoetig en uit die staanspoor op die agtervoet.
Hulle het elke kwart met 'n agterstand afgesluit.
Uganda het ná die eerste kwart sy neus voor gekry en met 15-13 voorgeloop.
Plaasvervangers is opgestuur en die span is geskommel, maar die She Cranes het gehou by hul spelstyl en fisiekheid, geduld aan die dag gelê en die druk volgehou. Hulle het die eerste helfte met 30-21 afgesluit.
Tog was alles nog nie verlore vir die Proteas nie.
Shadine van der Merwe is van verdedigende vleuel na hulpdoelverdediger geskuif. Met vyf minute oor in die derde kwart het sy 'n bal afgerokkel, maar die doele kon dit nie afrond nie.
Lefébre Rademan het Elmeré van der Berg reeds in die tweede kwart op hulpdoel vervang, en sy het met energieke spel en flair die aanval weer op dreef gekry.
Toe gly haar linkerenkel onder haar uit en sy beseer haar knie. Van der Berg is weer opgestuur.
Die Ugandese het die derde kwart met 41-37 afgesluit.
Alles was nog nie verlore nie . . .

Die Proteas het teruggeveg, maar die gaping het vyf doele gebly, want hulle het balbesit in hul eie sirkel verloor en foute begaan.
Om sout in die wonde te vryf het Tshina Mdau (verdedigende vleuel) twee keer waarskuwings vir kontak gekry en Zanele Vimbela het haar vervang.
Met vier minute oor was die telling 45-51.
Die Proteas kon net nie 'n onderskepping of twee bewerkstellig nie én tyd was nie aan hul kant nie.
Uganda was tevrede daarmee om terug te speel en tyd te verkwis.
Suid-Afrika het 'n doelpoging of twee verbrou en die koeël was deur die kerk.
Suid-Afrika het derde in Groep A geëindig nadat hy net met Barbados, Wallis en Skotland kon afreken.
Jamaika en Australië was té hoë hekkies.
Jamaika het bo-aan Groep A klaargemaak met tien punte en Australië was tweede met agt punte.
Engeland het Donderdagaand verras en Nieu-Seeland met 54-44 geklop en so as die voorste span in Groep B met tien punte afgesluit. Nieu-Seeland was tweede met agt punte.
Jamaika pak Nieu-Seeland Saterdag om 10:00 in die eerste halfeindstryd. Die tweede halfeindstryd sal om 15:30 tussen Engeland en Australië beslis word.
Die eindstryd is Sondag om 21:30.
Trinidad&Tobago het elfde geëindig nadat hy Barbados met 63-31 geklop het.
Skotland het sy uitspeelstryd om die negende plek teen Noord-Ierland met 43-33 gewen.
Malawi het sewende klaargemaak nadat hy Wallis met 62-56 getroef het.





















