Die Suid-Afrikaanse paalspringer Kyle Rademeyer het laat Saterdagaand ’n silwermedalje in die paalspring vir mans op die laaste dag van die atletiekbyeenkoms op die Statebondspele in Glasgow, Skotland, verower.
Dit was slegs Suid-Afrika se vierde medalje op die Spele — in teenstelling met die Suid-Afrikaanse swemmers wat in die swembad onder die medaljes baljaar het.
Zakithi Nene het wel vroeër in die dag danksy ’n sterk eindpoging die bronsmedalje in die 400 m vir mans losgehardloop.
Die ander twee medaljes wat Suid-Afrika in atletiek verower het, was Sinesipho Dambile wat Vrydagaand die goue medalje in die 200 m vir mans verower het en Paralimpiese atleet Masala Makatu wat Donderdag die silwermedalje in die 100 m (T12-klas vir siggestremdes) gewen het.
Die Australiër Kurtis Marschall het Rademeyer met ’n puik Statebondspele-rekordhoogte van 5.85 m om die goue medalje getroef om sy derde opeenvolgende Statebondspele-titel te wen.
Rademeyer se beste poging Saterdagaand van 5.70 m (sy loopbaanbeste is 5.73m) is 10cm beter as die hoogte waarmee sy landgenoot Riaan Botha 28 jaar gelede die goue medalje op die Statebondspele van 1998 in Kuala Lumpur, Maleisië, gebuit het.
Okkert Brits het in 2002 in Manchester, Engeland, die goue medalje met ’n hoogte van 5.75 m dié item op die Statebondspele gewen.
Rademeyer het op 4.90 m en 5.10 m uitgesit en daarna op 5.30 m, 5.40 m (tweede poging) en op 5.50 m en 5.60 m geslaag.
Op 5.70 m het die 24-jarige oud-leerling van Paarl Gimnasium wat later in Amerika gaan studeer het, met sy tweede sprong oorgekom.
Hy kon nie met sy drie pogings op 5.80 m slaag nie.
Dit was andersins maar ’n moeilike aand vir Suid-Afrikaanse atletiek.
Jo-Ané du Plessis, die Olimpiese silwermedaljewenner in dié item, moes met die sesde plek tevrede wees en die 4x100 m-aflosspan, wat twee jaar gelede ook die Olimpiese silwermedaljewenner was, het ’n nagmerrie-wedloop gehad en is gediskwalifiseer.
In een van die laaste items van die Spele moes Tshepo Tshite (3:57.43) met die tiende plek in die mylwedloop tevrede wees. Die Skot Joss Kerr, die nuwe wêreldrekordhouer (3:42.66), het gewen in 3:54:12.
In die mylwedloop vir vroue was Karabo More 12de en laaste in 4:50.96.
Die aflosspan, bestaande uit Mvuyo Moss, Cheswill Johnson, Bradley Nkoane en Akani Simbini, kon slegs vyfde oor die eindstreep hardloop. Kort daarna is Suid-Afrika en Kanada, wat Suid-Afrika twee jaar gelede op die Olimpiese Spele in Parys net-net om die goue medalje geklop het, albei gediskwalifiseer.
Kanada (38.11 sek.) se diskwalifikasie is later tersyde gestel.
Die Kanadese het toe tweede geëindig ná Australië (38.07sek.).
In die uitdunne het Suid-Afrika sy uitdun in 38.30 sek. gewen en Nigerie (38.46 sek.) die ander uitdun.
In die eindronde het Moss te stadig weggekom, terwyl die span se aangeë nie goed was nie.
Du Plessis, wat ’n paar maande lank weens ’n rugbesering nie kon deelneem nie, moes met ’n beste poging van slegs 56.22 m tevrede wees. Sy het haar Olimpiese silwermedalje twee jaar gelede met ’n afstand van 64.22 m. gewen.
Saterdagaand kon net twee atlete afstande van verder as 60 m aanteken — die Australiër Mackenzie Little (61.88 m) en die Nieu-Seelander Tori Moorby (60.04 m).
*Marioné Fourie (100 m-hekkies vir vroue) en Franco le Roux (110 m-hekkies vir mans) het ook die laaste paar dae vierde plekke behaal, terwyl Douw Smith vyfde was in die spiesgooi vir mans.







