Suid-Afrika se swemmers het sedert die gloriedae van Penny Heyns en Marianne Kriel in die Olimpiese Spele van 1996 in Atlanta, Suid-Afrika se naam hoog gehou op beide die Olimpiese en Statebondspele.
Met vanjaar se Statebondspele wat Donderdagaand in Birmingham, Engeland, begin sal die land se swemmers opnuut Suid-Afrika se aanslag op medaljes lei.
Die swembyeenkoms van die Spele begin Vrydag en duur tot 3 Augustus.
Suid-Afrika het 'n span van 20 swemmers in sy geledere. Onder hulle tel die Olimpiese kampioen Tatjana Schoenmaker, Chad le Clos (30), 'n voormalige Olimpiese kampioen, wêreldkampioen en wêreldrekordhouer, en 'n groot groep jong opkomende sterre.
Le Clos wat al 17 medaljes in die Statebondspele gewen het, kort net 'n enkele medalje om die rekord van 18 medaljes wat die skuts Phillip Adams (Australië) en Mick Gault (Engeland) hou, te ewenaar vir 'n individu wat die meeste medaljes verower het.
Schoenmaker is die verdedigende kampioen in die 100 m- en 200 m-borsslag vir vroue.
Swem Suid-Afrika (SSA) wys in 'n verklaring daarop dat die Suid-Afrikaanse swemspan met die vorige Statebondspele in 2018 in Goudkus, Australië, die meeste goue medaljes vir Suid-Afrika gewen het.
Die swemmers het ses goue medaljes gewen, en ook drie silwer- en drie bronsmedaljes verower.

Benewens Schoenmaker se twee goue medaljes het Le Clos drie van die goue medaljes gewen en ook 'n brons in die 4x100-aflos.
Le Clos het in Junie die wêreldkampioenskap in Boedapest, Hongarye, weens asemhalingsprobleme misgeloop, maar hy is volgens SSA gereed om sy beste te lewer.
"Dit het my 'n rukkie geneem om weer my beste peil te bereik, maar ek het hard geoefen," het hy uit Plymouth in Engeland gesê waar hy hom vir die Spele voorberei.
"Ek neem my voorbereiding vir vanjaar se Spele ernstig op. Ek het aan verskeie aspekte aandag gegee sodat ek gereed is vir die Spele wat vanjaar my hooffokus is," sê Le Clos.
Hy sal aan die 50, 100 en 200-vlinderslag deelneem, sowel as aan die 100-vryslag.
Die KwaZulu-Nataller meen Suid-Afrika ook in die 4 x 200 en 4x100-wisselslag-aflos, sy stem dikmaak.
"Ons moet enige medalje in die aflos soos 'n goue medalje vier.
"Ek is regtig baie opgewonde daaroor. Ek stuur gereeld vir die ander swemmers boodskappe om uit te vind hoe dinge met hul voorbereiding gaan. Myns insiens kan ons 'n paar mense verras," meen Le Clos.
Onder die jonger swemmers wat ook in Birmingham goeie vertonings kan lewer tel Lara van Niekerk, wat in Boedapest 'n bronsmedalje in die 50-borsslag gewen het en die twee Olimpiese swemmers Matt Sates en Pieter Coetzé. Laasgenoemde kon weens Covid-19 nie in Boedapest deelneem nie.
Le Clos verwag ook goeie vertonings van Schoenmaker. Sy is 'n superster, sê hy.
Sates, wat in Boedapest met 'n verkoue gesukkel het, het hom sedertdien in Brittanje voorberei. Hy sê hy is tevrede met sy voorbereiding.
Daar is groot verwagtinge van Suid-Afrika se Paralimpiese swemmers Christian Sadie, Cornell Leach en Alani Ferreira.
Die swemspan is:
Mans: Guy Brooks, Pieter Coetzé, Brenden Crawford, Michael Houlie, Chad Le Clos, Andrew Ross, Matthew Sates. Vroue: Aimee Canny, Emma Chelius, Dune Coetzee, Kaylene Corbett, Erin Gallagher, Rebecca Meder, Olivia Nel, Michaela Pulford, Tatjana Schoenmaker, Lara van Niekerk. Die paralimpiese swemmers is: Christian Sadie, Alani Ferreira en Cornelle Leach. Afrigters: Rocco Meiring, Wayne Riddin, Eugene da Ponte, Theo Verster. Bestuurder: Julie Cassim





















