Statebondspele

Zenéy het haarself onderskat, sê Myrtle

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Zenéy van der Walt spog met haar bronsmedalje in die 400 m-hekkies by die Statebondspele in Birmingham. Foto: AP
Zenéy van der Walt spog met haar bronsmedalje in die 400 m-hekkies by die Statebondspele in Birmingham. Foto: AP

Zenéy van der Walt kon die eindronde in die 400 m-hekkies gewen het, maar het haarself waarskynlik misgis met hoeveel brandstof sy in die tenk gehad het, reken Myrtle Grobler (née Bothma), die Suid-Afrikaanse rekordhouer in dié nommer.

Van der Walt het Saterdagaand die beste 50 m van haar loopbaan tot dusver gehardloop op die Statebondspele in Birmingham, om van bykans die laaste plek tot in die derde plek in te snel vir die bronsmedalje.

Haar vertoning het al wat 'n kyker was skoon na hul asem laat snak, want die sterk wyse waarop sy die wedloop geëindig het, laat 'n mens wonder of sy nie selfs beter as die derde trap op die podium en haar nuwe persoonlike beste tyd van 54.47 sekondes kon gevaar het nie.

Ek was bekommerd toe ek sien hoe ver agter sy was toe hulle in die agterste pylvak inkom. Sy het in daardie stadium nie sleg gelyk nie, maar wel asof sy nie verdien het om onder die voorstes te eindig nie.

—  Myrtle Grobler

Grobler, wat al sedert 1986 die nasionale rekord in 53.74 sek. agter haar naam het, glo Van der Walt het haarself onderskat in dié resies.

"Ek was bekommerd toe ek sien hoe ver agter sy was toe hulle in die agterste pylvak inkom. Sy het in daardie stadium nie sleg gelyk nie, maar wel asof sy nie verdien het om onder die voorstes te eindig nie," het Grobler Sondag by navraag gesê.

"Ek dink dit is eers toe sy in die pylvak kom wat sy besef het dat sy nog heelwat in die tenk oor het. As sy haarself in die agterste pylvak en om die draai meer gedruk het, dink ek kon sy selfs nóg 'n beter tyd gehardloop het. Sy kon daardie wedloop gewen het met die krag wat sy aan die einde getoon het."

Die goue medalje is deur die verdedigende kampioen Janieve Russell gewen in 54.14 sek, met die silwer wat aan haar spanmaat Shian Salmon toegeken is. Haar tyd was twee duisendstes van 'n sekonde vinniger as Van der Walt s'n.

"Ek dink Zenéy het haarself onderskat. Dit het nie gelyk of sy regtig voluit gaan toe die skoot geklap het tot en met die 300 m-merk nie.

Van der Walt was ná 200 m in die agtste plek. Met 50 m oor was die Suid-Afrikaner in die vyfde plek, voordat sy skielik na sesde rat oorgeskakel het.

"Haar tyd is baie goed sy raak geleidelik al hoe vinniger, wat reg is. Dit is hoe dit hoort. Dit sou kommerwekkend gewees het as sy in die kompetisies waarin sy tans deelneem nie dié tye gehardloop het nie."

Zenéy van der Walt kom soos 'n sneltrein deur om derde te eindig nadat sy ná 200 m nog agtste was. Foto: Getty Images
Zenéy van der Walt kom soos 'n sneltrein deur om derde te eindig nadat sy ná 200 m nog agtste was. Foto: Getty Images

Grobler sê sy glo Van der Walt behoort heelwat selfvertroue uit dié wedloop te put.

"Dit moet verblydend wees om te weet dat jy so ver agter is en 50 m kon opmaak op die voorste drie. Om 300 m met hekkies te hardloop en só te kan versnel oor die laaste 100 m, wys haar peil is reg. Dit is ongelooflik. As ek sy was, sou ek volgende keer haastiger uit die blokke wees en net aanhou."

Van der Walt sê sy is net dankbaar dat sy haarself kon verras.

Dit was 'n skok en daar was trane. Dit is ongelooflik om my seisoen op dié hoogtepunt af te sluit.

—  Zenéy van der Walt

"Ek het gesien dat een van die Jamaikane voor is, maar die ander twee was naby aan mekaar. Ek het net besluit dat ek nie gaan opgee nie en gaan deurdruk tot die einde," het sy agterna gesê.

"Dit was 'n skok en daar was trane. Dit is ongelooflik om my seisoen op dié hoogtepunt af te sluit. Ek en my afrigter, Maritza Coetzee, het so hard hiervoor gewerk en ek is net dankbaar."

• In Sondag se program het Suid-Afrika se vroue 4x400 m-aflosspan van Miranda Coetzee, Taylon Bieldt, Shirley Nekhubui en Van der Walt vyfde geëindig in 3:30.25. Engeland het glorie geproe in 3:25.83. Engeland is 'n rukkie later gediskwalifiseer omdat een van hul atlete buite haar baan getrap het, so SA is toe die vierde plek toegeken met Kanada wat tot goud bevorder is.

Die langasem Dominique Scott het ook 'n vyfde plek in die 5 000 m behaal in 'n seisoensbeste vertoning van 15:07.50, terwyl die spiesgooier Jo-Ané van Dyk sesde was met haar beste gooi van 57,12 m.