Tennis

Curro het nóg groot planne vir tennis

Die Curro-groep wil aanstaande jaar deur strategiese vennootskappe sy posisie as gasheer van Suid-Afrikaanse beroepstennistoernooie verder verstewig.

Hy hoop om die getal toernooie in 2026 moontlik selfs uit te brei as potensiële borge saamspeel, het Jared Temlett, Curro se bedryfsbestuurder van sport, gesê.

Philip Henning Foto: NRPR
Philip Henning Foto: NRPR

Curro het vanjaar vyf Fu­tures-toernooie vir mans en vyf vir vroue in die Curro Centre Court-reeks by Curro Hillcrest in Durban en in Stellenbosch by die Van der Stel-bane aangebied.

Temlett en die ander lede van die Curro-groep is bewus daarvan dat spelers aansienlik wyd in die buiteland moet reis om ATP- en WTA-punte in te samel, vandaar die verbintenis daartoe om voort te gaan met die toernooie.

"Die toernooie is met groot entoesiasme begroet deur al die SA spelers en Tennis Suid-Afrika is ook baie positief daaroor," sê Temlett.

SA mansspelers het in die Curro Centre Court-reeks met al die beker-louere weggestap. Philip Henning (drie titels), Devin Badenhorst en Kholo Montsi was die titelhouers.

Twee SA vroue, Isabella en Zoë Kruger, was onder die vyf titelhouers aan vrouekant.

Riaan Venter, afrigter van Kris van Wyk, die land se derde beste mansspeler, en die top-junior, Jahnie van Zyl, sê die Curro-reeks is die lewensbloed van SA tennis op beroepsvlak.

"Gebeur sulke toernooie glad nie, kos dit elke speler se ouers tussen R1,5 en R2 miljoen per jaar as hulle 'n loopbaan op beroepsvlak wil vestig," sê Venter.

"Ek is positief oor die Curro-besluit om strategiese vennootskappe te smee. Dis altyd makliker vir moontlike borge om aan te sluit by 'n bestaande toernooi-reeks wat suksesvol aangebied is, soos dié van Curro," sê Venter.

Daar was reeds verkennende gesprekke tussen ander rolspelers in SA tennis oor die moontlikheid om die Curro-voetspoor in tennis te versterk en 'n uitgebreide beroepsreeks in die land te vestig saam met die Curro-groep, volgens Venter.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM