Tennis

Donna in SA vrouespan, loop junior kampioenskappe mis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Donna le RouxFoto: Charle Lombard
Donna le RouxFoto: Charle Lombard

Donna le Roux (17) sal nie 'n moontlike nasionale o. 18-titel by haar string Suid-Afrikaanse junior titels van oor die jare heen kan voeg nie.

Sy gaan nie vandeesweek in Bloemfontein op die nasionale junior kampioenskappe in aksie wees nie.

Donna is ingesluit in die Suid-Afrikaanse vrouespan wat in die Billie Jean King-bekertoernooi in Larnaca, Ciprus, gaan speel.

Die nasionale junior kampioenskappe begin Woensdag en die SA vrouespan vertrek reeds Vrydag na Ciprus vir die Europa/Afrika Groep II-toernooi.

Dit word van 7 April by die Herodotou-tennisakademie in Larnaca beslis.

Benewens die gasheer en Suid-Afrika, is Bosnië en Herzegowina, Bulgarye, Egipte, Estland, Georgië, Israel, Kosovo, Noord-Macedonië en Noorweë ook daar in aksie.

Donna het op die jaarlikse junior kampioenskappe in Bloemfontein oor die jare heen die nasionale o. 10-titel (twee keer) gewen. Sy het ook 'n o. 14- en o. 16-titel gewen.

Verlede jaar in die o. 18-eindstryd het sy teen die Kapenaar Hanmaré McAslin vasgeval wat in drie stelle met 3-6, 6-3, 6-3 gewen het.

Donna is die dogter van die voormalige Springbok-rugbyspeler Ollie le Roux.

Benewens Donna is die twee Van Zyl-susters, Mari-Louise (18) en die belowende Jahnie (16), asook Kaitlyn Ramduth (18) en Abigayel Vosloo (17), ook vir die nasionale vrouespan gekies.

Mari-Louise was in 2023 as 16-jarige in die Suid-Afrikaanse groep wat in Portugal in aksie was.

Die span vir die toernooi in Ciprus word eers Woensdag aangekondig.

Suid-Afrika het in Junie verlede jaar met vier tieners eerste onder die 12 spanne in Nairobi, Kenia, geëindig om tot Groep II bevorder te word.

Isabella Kruger is weens 'n skouerbesering nie vir die toernooi in Ciprus beskikbaar nie.

• Bykomende bron:billiejeankingcup.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM