Tennis

‘Jong Federer’ wen Australiese Ope-seunstitel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Henry Bernet gebruik vergelykings met Roger Federer as motivering. Foto: Getty Images
Henry Bernet gebruik vergelykings met Roger Federer as motivering. Foto: Getty Images

Al word die jong Switser Henry Bernet telkens met sy beroemde landgenoot Roger Federer vergelyk, het hy iets bereik wat Federer nie kon doen nie deur Saterdag die seunstitel op die Australiese Ope te wen.

Bernet, wat dié vergelykings as motivering gebruik het, het op sy 18de verjaardag die Amerikaner Benjamin Willwerth met 6-3, 6-4 geklop en hom aangesluit by diegene soos Alexander Zverev, Nick Kyrgios en Gael Monfils, wat ook voorheen die junior titel in Melbourne gewen het.

Hoewel Federer ses van sy 20 Grand Slam-titels in Melbourne gewen het, was die juniorkroon hom nooit beskore nie. Sowel Bernet as Federer is inwoners van Basel, waar albei die sport by dieselfde tennisklub, TC Old Boys Basel, bemeester het.

In nog 'n ooreenkoms gebruik Bernet dieselfde klassieke eenhandige rughandhou wat Federer met soveel vrug gespeel het, en hy word nou afgerig deur Severin Lüthi, wat lank aan die Switserse held se sy was.

Op die vraag hoe hy die onvermydelike vergelykings sou hanteer wanneer hy hom eersdaags by die hoof-ATP-reeks aansluit, sê Bernet: "Ek probeer eenvoudig net myself ontwikkel, soort van my eie reis maak.

"Maar daar gaan natuurlik altyd vergelykings wees. Dit is nie 'n probleem vir my nie. Dit is 'n motivering."

Hy het Federer net een keer ontmoet, by verlede jaar se Amerikaanse Ope.

"Ek sou graag weer met hom wou gesels," sê hy toe hy gevra is of hy ná sy Australiese deurbraak 'n oproep van die 43-jarige Federer verwag. - AFP

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM