Tennis

’n Sege so soet soos asyn

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vandeesmaand is dit die 50ste herdenking van een van die vreemdste episodes in SA sportgeskiedenis. In Oktober 1974 het Suid-Afrika se Davisbeker-span Italië in die halfeindstryd geklop. Die eindstryd sou iewers in November by Ellispark in Johannesburg plaasvind, maar dit het nooit gebeur nie. Luke Alfred vertel die verhaal van 'n tennissege wat net verloorders gehad het.

Die voormalige Suid-Afrikaanse tennisster Ray Moore. Foto: Getty Images
Die voormalige Suid-Afrikaanse tennisster Ray Moore. Foto: Getty Images

Suid-Afrika het in die 1970's en 1980's twee tydperke van Davisbeker-isolasie ervaar. Die eerste was van 1970-'73; die tweede van 1978 tot 1992.

In 1974 was die verwagtinge van die Suid-Afrikaanse Davisbeker-span hoog. Hulle het 'n uitstekende span gehad. Cliff Drysdale, Ray Moore, Robert Maud en Byron Bertram was die enkelspelspelers.

In dubbelspel het Suid-Afrika die beste duo ter wêreld gehad. Frew McMillan en Bob Hewitt was uitmuntend op harde bane, minder so op gras en klei.

Suid-Afrika se 1974-Davisbeker-veldtog het in Suid-Amerika begin. Eers het hulle met prysgewing (walk­over) teen Argentinië gewen, en toe net-net (3-2) met 'n begeesterde Chili in die neutrale Bogotá in Colombia afgereken. Volgende aan die beurt was Colombia self, weer in Bogotá.

Colombia se Iván Molina het die eerste stel van die eerste enkelspelwedstryd met 8-6 teen Moore gewen. Maar Moore, met sy kenmerkende wilde haredos, kopband en al, het teruggeveg en die tweede stel ingepalm, en al moes die derde stel met 'n valbylpot beslis word, het Moore die wedstryd met drie stelle teen een gewen.

Hewitt het sy eerste enkelspel-wedstryd in skoon stelle gewen en daarna met McMillan saamgespan om die dubbelspel te wen. Suid-Afrika was deur na die halfeindstryd om die wenner van die kragmeting tussen Italië en Roemenië te pak, op tuisbodem by Ellispark in Johannesburg.

Apartheid was in die wetboeke, maar ons het dikwels 'n manier gevind om dit te omseil.

Tennis was groot in Suid-Afrika in die 1970's. Die SA Ope, 'n byeenkoms wat sedert 1968 vir alle rasse oop was, was volgens die toernooi-organiseerder Keith Brebnor "die nieamptelike vyfde Grand Slam op die wêreldtoer".

"Arthur Ashe, wat een keer gesê het hy wil graag 'n atoombom op Ellispark laat val, is deur Owen Williams oorreed om in 1972 self te kom kyk," sê Brebnor.

"Hy het genoeg daarvan gehou om terug te kom. Apartheid was in die wetboeke, maar ons het dikwels 'n manier gevind om, jy weet, dit te omseil."

Tennis was nie net gewild op die bane en in die klubs van voorstede nie, dit was ook gewild onder buitelandse bekendes. Die Ita­liaanse aktrise Gina Lollobrigida het glo lekker saam met dr. Chris Barnard gekuier tydens 1968 se SA Ope. Richard Burton en Liz Taylor was 'n paar jaar later gaste van die Ope. Charlton Heston het die SA Ope in 1974 bygewoon. Hy het 'n sebravel-karos gedra in 'n vriendskaplike wedstryd teen Ashe, wat in die eindstryd teen daardie jaar se Wimbledon-wenner, nog 'n uiters talentvolle Amerikaner, Jimmy Connors, verloor het.

Suid-Afrika moes Italië in die halfeindstryd op Ellispark pak. Antonio Zugarelli het Hewitt hard laat werk, maar Hewitt het uiteindelik geseëvier. Alles het volgens plan verloop en Suid-Afrika het gewen, 4-1.

In die ander helfte van die loting het Suid-Afrika se teenstanders intussen goeie, bestendige tennis gespeel. Wie was hulle? Hoe vreemd dit ook al mag klink, Indië het vir die Suid-Afrikaners in die eindstryd gewag. Die Indiese spelers het sowel Australië (in 'n reusestryd, wat meer as 300 potte in beslag geneem het) as die Sowjet-Unie geklop op pad na 'n onwaarskynlike eindstryd tussen Suid-Afrika en Indië.

Indira Gandhi
Indira Gandhi

Indië het Australië asook die Sowjet-Unie op stadige Indiese bane geklop, en daarom het die Suid-Afrikaners gemeen hulle sal hulle kan baasraak op die bane van die Hoëveld, waar die balle hoog wip.

Die Indiërs, onder druk van hul premier, Indira Gandhi, om glad nie in die eindstryd te speel nie, het neutrale stede vir die eindstryd voorgestel. Die Suid-Afrikaners, wat gevoel het hulle sou Indië klop, het op tuisveldvoordeel aangedring.

Uiteindelik, ná baie oor en weer, het die Indiërs besluit om in protes teen apartheid nie na Suid-Afrika te reis om vir die Davisbeker te veg nie. Vyftig jaar gelede, amper tot op die dag, is Suid-Afrika toe die beker toegeken.

Die Amritraj-broers, Vijay en Anand, wat albei in die enkelspel en as Indië se bobaas-dubbelspelspan gespeel het, glo tot vandag toe dat 1974 se Davisbeker-trofee hulle s'n sou wees.

Die oorhandigingseremonie was 'n bittersoet gebeurtenis en het tydens die SA Ope van 1974 op Ellispark plaasgevind.

Die Davisbeker-spanlede het hul groen baadjies aangehad en die beker van die destydse president van die SA Tennisfederasie, regter Blen Franklin, ontvang.

'n Paar foto's is geneem, daar was 'n paar handdrukke. Hier en daar was daar selfs 'n effense glimlag.

Baie jare later het Hewitt aan die The New York Times gesê: "Dit het 'n redelike suur smaak in ons mond gelaat."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM