Tennis

SA se Davisbeker-wenplan: Kry Lloyd terug

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lloyd Harris verlede jaar op Wimbledon teen Amerika se Ben Shelton in aksie. Foto: Getty Images
Lloyd Harris verlede jaar op Wimbledon teen Amerika se Ben Shelton in aksie. Foto: Getty Images

Piet Norval beraam 'n rits planne om Suid-Afrika terug in die Davisbeker-tennisreeks se prestigeryke Wêreldgroep te kry en hoog op sy prioriteitslys is om Lloyd Harris, die land se voorste speler, weer in dié reeks te begin loslaat.

Norval (54) is Suid-Afrika se nuwe Davisbeker-kaptein. Sy termyn strek van 1 Januarie vanjaar tot 2028.

Dié voormalige Olimpiese silwermedaljewenner en Grand Slam-kampioen in die gemengde dubbelspel wil ook noue bande met die plaaslike afrigters van topspelers vestig, 'n stewiger dubbelspelkombinasie kry en met reëlmaat spelers inspan wat in die Amerikaanse kollege-stelsel is.

Die werklikheid is egter dat kollege-spelers en sterre soos Harris dikwels onbeskikbaar is vir Davisbeker-diens. Die Suid-Afrikaanse span gaan in die Wêreldgroep II-uitspeelstryd in Februarie in Groenkloof, Pretoria, teen Nigerië juis sonder die beseerde Harris, 108ste op die wêreldranglys, moet klaarkom.

Die 20-jarige Devin Badenhorst, 'n topspeler van die Baylor-Universiteit in Texas, is ook nie beskikbaar nie.

Harris herstel van 'n rugbesering. Hy sal eers weer in Maart by Indian Wells aantree. Badenhorst speel in die volgende paar maande in NCAA-wedstryde vir Baylor. Hy sal moontlik eers in September vir die land beskikbaar wees.

Norval is nie ontmoedig nie.

"My plan is om Suid-Afrika terug te kry in die Wêreldgroep. Die feit dat ek vertroud is met die spelstyl van spelers soos Philip Henning, Kris van Wyk en Alec Beckley, hul afrigters goed ken en gereeld met hulle kan skakel oor hul spel, is tot die land se voordeel," sê hy.

"Ek hoop dat ek met die afrigters kan gesels oor areas waarin hul spelers kan verbeter. As Suid-Afrika wil terugkeer na die Wêreldgroep, is dit belangrik dat ons ons dubbelspelkombinasies moet verbeter, want dit was die afgelope twee jaar 'n kwelpunt."

Norval oorweeg dit om die dubbelspelkombinasie van Badenhorst en Luc Koenig, sy Baylor-kollege-dubbelspelmaat, te bekyk as een moontlike opsie. Hy is die seun van die tenniskommentator Rob Koenig, wat ook Davisbeker-tennis vir Suid-Afrika gespeel het.

Piet Norval (regs) en Wayne Ferreira, sy dubbelspelmaat, met hul silwermedaljes op die Olimpiese Spele in Barcelona in 1992. Foto: Getty Images
Piet Norval (regs) en Wayne Ferreira, sy dubbelspelmaat, met hul silwermedaljes op die Olimpiese Spele in Barcelona in 1992. Foto: Getty Images

As speler het Norval in sewe Davisbeker-toernooie gespeel. Hy onthou hoe Suid-Afrika twee keer - in 1995 en 1996 - op die drumpel van 'n plek in die halfeindronde was, maar in dubbelspelwedstryde vasgeval het nadat hulle wedstrydpunte gehad het.

"In 1995 in Moskou het Wayne Ferreira en Gary Muller teen Rusland verloor nadat hulle 'n wedstrydpunt gehad het om aan Suid-Afrika 'n voorsprong van 2-1 te besorg. In 1996 het dieselfde lot Wayne en Ellis Ferreira getref.

"Jou Davisbeker-dubbelspel-kombinasie kan 'n groot voordeel wees en ons moet 'n gevestigde en sterk kombinasie vind en bou," sê Norval.

Wat die spelpeil betref van Henning, 324ste op die ranglys, Van Wyk (360ste) en Beckley (568ste), is Norval opgewonde.

"Philip het onlangs in Challenger-toernooie net-net vasgeval teen spelers 150ste op die ranglys en hy is baie goed op dreef. Kris het onlangs in 'n Curro-toernooi in Stellenbosch in die eindstryd teen Philip verloor, so hy is ook in vyfde rat," sê hy.

"Kris oefen binnekort juis saam met Riaan Venter (in Potchefstroom), sy afrigter, en Philip werk saam met Federico Coppini in Stellenbosch, so hulle is goed voorbereid vir die Davisbeker-kragmeting in Groenkloof. Albei kan ook in hoë lugdruk gedy."

Norval verwag dat Harris se fokus nou eerstens sal wees om terug te keer na die top-100 op die ranglys en nie op die Davisbeker nie.

"Ek wil wel later met hom en Anthony Harris, sy afrigter, gesels oor die moontlikheid dat hy hom vir die land beskikbaar sal stel," sê hy.

Badenhorst kan, indien hy vanjaar homself onder die top-10 op die NCAA-enkelspel-ranglys vestig, as promotorskeuse toegelaat word tot agt Challenger-toernooie. Dit kan die paspoort wees na 'n plek onder die top-150 op die wêreldranglys.

Dié hemelbesem van 2 m het verlede jaar op die Curro-toernooie in Hillcrest, Durban, 'n titel gewen en was ook 'n finalis. Sy reuse-afslane en verwoestende voorhandhoue maak van hom 'n Davisbeker-aanwins. Norval glo as hy Badenhorst, Harris, Henning, Van Wyk en Beckley tot sy beskikking het, kan die land groot vordering maak en potensieel terugkeer na die Wêreldgroep.

Devin Badenhorst, Alec Beckley en Philip Henning. Foto: Gallo Images, Verskaf
Devin Badenhorst, Alec Beckley en Philip Henning. Foto: Gallo Images, Verskaf

Norval was as enkelspelspeler 125ste op die ranglys. As ster in die dubbelspel het hy die top-16 op die wêreldranglys gehaal. In Desember 2000 het Norval en Donald Johnson die dubbelspeltitel in die ATP-eindtoernooi in Bangalore gewen.

Twee maande later het hy egter sy knie in 'n motorongeluk in Kaapstad beseer.

"Ek sou eers twee jaar later kon terugkeer weens die erns van my kniebesering en ek het toe besluit om uit te tree."

Hoewel Norval se besering hom verhinder het om op sy triomfantelike vertoning in Indië voort te bou, het hy daarna 'n nuwe loopbaan gevestig as afrigter by die Spier-akademie in Stellenbosch.

Daar het hy latere Davisbeker-spelers soos Izak van der Merwe, Fritz Wolmarans en Nicolaas Scholtz en Federasiebeker-spelers soos Madrie le Roux gebrei.

"Die feit dat ek daardie spelers help afrig het, het my gereed help maak vir die Davisbeker-pos," sê hy.

Norval onderneem om met vorige Davisbeker-kapteins, onder wie Christo van Rensburg, Danie Visser en Marcos Ondruska, skouers te skuur oor sy werk voor sy afspraak met Nigerië in Februarie.

Só werk dit

Norval se mikpunt is om Suid-Afrika terug in die elite-Wêreldgroep te kry, waarin 18 spanne speel.

Suid-Afrika is tans in Wêreldgroep II, een van vier Wêreldgroepe wat almal op 'n promosie/relegasiegrondslag meeding om in die elite-Wêreldgroep te kom. Die spanne in Wêreldgroep I tot III ding elk in een van drie geografiese sones mee. Suid-Afrika is in die Euro/Afrika-sone-groep van Wêreldgroep II. Hul eerste mikpunt sal wees om tot Wêreldgroep I bevorder te word.

As Suid-Afrika Nigerië klop, sal hy in September in nog 'n Wêreldgroep II-kragmeting speel. Die verloorder van Februarie se kragmeting sal later vanjaar in 'n Wêreldgroep III-kragmeting speel.

sport@rapport.co.za

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM