Jannik Sinner sê hy het voor sy kwarteindstryd Woensdag in die Franse Ope balle geslaan teen Lois Boisson en sê hy is glad nie verbaas oor dié promotorskeuse se droomtoernooi op tuisbodem nie.
Die nr. 1-speler in die wêreld het sy veldtog vir 'n eerste titel op Roland Garros op koers gehou met 'n oorwinning van 6-1, 7-5, 6-0 oor Kazachstan se Alexander Bublik.
Hulle was op die hoofbaan slaags nadat Boisson die sesde gekeurde Mirra Andreeva met 7-6(6), 6-3 geklop het.
Sinner en Boisson het vroeër op die hoofbaan geoefen.
Die Italianer is baie beïndruk met Boisson se ongewone styl vir 'n vrouespeler.
"Die vlak wat sy oplewer, is ongelooflik," sê Sinner.
"Sy is baie bestendig, het 'n goeie kleibaanstyl met die voorarm en bewerkstellig baie spin.
"Ek het gevra of daar iemand beskikbaar is vir opwarming, want ek wou nie net op die baan gaan (sonder opwarming) nie," sê Sinner.
"Sy het dadelik ja gesê en ons het balle geslaan. Dit was 'n goeie opwarming met 'n baie anderse spelstyl vir 'n vrou, want die balle is redelik hoog geslaan, met spin.

"Fisiek is sy baie sterk. Sy verdien beslis die plek waar sy haar nou bevind."
Boisson is nou Franse aanhangers se nuwe liefling en sal volgende week die top-70 haal.
Sy het verlede jaar die Franse Ope weens 'n kniebesering misgeloop en maak dus vanjaar haar Grand Slam-debuut.
"Dit is fantasties, nè? Dit is presies wat Frankryk nodig het, iemand nuuts, 'n nuwe ingesteldheid. Sy is baie kalm op die baan - altans dit lyk só," het Sinner gesê.
"Ek het haar voor die toernooi in die gimnasium in Jean Bouin gesien. Ons het 'n bietjie gesels.
"Om hier 'n promotorskeuse te wees is 'n spesiale oomblik vir haar omdat sy Frans is."
Sinner sal Vrydag in die halfeindronde teen Alexander Zverev of Novak Djokovic te staan kom.
Hul wedstryd is laat Woensdagaand beslis.
Boisson en Coco Gauff sal Donderdag in die tweede halfeindstryd kragte meet.
Die eerste halfeindstryd is om 15:00 tussen Aryna Sabalenka en Iga Swiatek.
Die vroue-eindstryd is Saterdag. - Reuters





















