
Alexander Zverev, Jannik Sinner. Carlos Alcaraz. Een van hierdie drie name sal allig op die trofee pryk ná afloop van die ATP-eindtoernooi in Turyn, waaraan die agt voorste gekeurde mansspelers op die planeet van vandag af deelneem, sê die kommentator Rob Koenig.
Sinner, eerste gekeur, Zverev, tweede, of Alcaraz, derde, sal prysgeld van $2,2 miljoen ontvang as hulle as kampioen wegstap. Die speler wat onoorwonne in sy drie rondomtalie-wedstryde, die halfeindstryd en die eindstryd is, sal $4,8 miljoen wen.
"Zverev het pas die Paryse Meesterstitel ingeoes deur Ugo Humbert in die eindstryd te klop," sê Kevin Ullyett, viermalige Grand Slam-dubbelspelwenner.
"Sy peil die afgelope twee maande was baie goed. Hy lanseer missiele vir eerste afslane en is altyd 'n treffer in die ATP-eindtoernooie," sê Ullyett
Die Duitser Zverev het in 2018 en 2021 die ATP-eindtoenooi gewen, en sy peil in binnenshuise toernooie is dikwels goed.
"Carlos het sy afslaanspel effens opgeskerp," sê Ullyett.
"Hy gebruik 'n verkorte en vinniger aksie om sy afslaanwerk net met daardie 1 tot 2% te verbeter. Dis wat die grotes altyd doen. Rafael Nadal het sy afslaan-aksie ook verkort en so ook Roger Federer."
Sinner het vanjaar op 23-jarige ouderdom die jongste speler nog geword wat albei hardebaan-Grand Slam-toernooie - die Australiese Ope en die Amerikaanse Ope - in dieselfde jaar gewen het. Sy wen-verloor-rekord vir vanjaar is 65/6. Die Italianer se afslaanspel en terughoue was in 2024 amper weergaloos.

Alcaraz het wel pretbederwer gespeel deur Sinner in Oktober in die eindstryd van die Chinese Ope streepsuiker te gee.
Volgens Michael de Jongh, voorheen afrigter van Mary Pierce en Martina Navratilova, is Alcaraz steeds geneig om op harde bane 'n kleibaan-patroon te volg wat voorspelbaar is.
De Jongh sê Andrey Rublev van Rusland, Casper Ruud van Denemarke en Alex de Minaur van Australië is "piesangskille wat hier en daar vir 'n verrassing kan sorg, maar nie die halfeindronde sal haal nie.

Nie een van die drie het die slaankrag om die sogenaamde Drie Grotes - Sinner, Zverev en Alcaraz - te ontsenu nie.
Die Amerikaner Taylor Fritz, verslane finalis in die Amerikaanse Ope vanjaar, beskik oor reusagtige eerste afslane en woema aan voorarm- en handrugkant. "Maar hy moet tot elke prys op die voorvoet wees voor hy in 'n wenposisie kan kom," sê De Jongh.
"Daarenteen kan Alcaraz en Sinner, selfs as hulle in verdedigende posisies is, steeds vernietigend wees," sê De Jongh.
Fritz is as atleet op stadiger hardebaan-oppervlakke ook nie in dieselfde klas as veral Sinner en Alcaraz nie, sê die oudbreier.

Volgens Koenig wil die sewemalige titelhouer in die ATP-eindtoernooi, Novak Djokovic, bloot sy eie lyf versorg en daarom het hy 'n logiese besluit geneem om hom te onttrek aan die eindtoernooi.
"Sy fokus is daarop om by die Australiese Ope 'n verdere Grand Slam-titel in te oes. Ek glo hy kan," sê Koenig.
De Jongh verskil egter. "Die vraag of Nole 'n verdere Grand Slam-trofee omhoog kan hou, sal nie soseer afhang van sy peil nie, maar van sy lyf. Hy betree nou die einde van sy loopbaan waar beserings 'n faktor word, soos wat met Federer en Nadal die geval was voor hom."
* Enkelspel-groepe by die ATP-eindtoernooi:
Ilie Nastase-groep: Jannik Sinner (1), Daniil Medvedev (4), Taylor Fritz (5), Alex de Minaur (7).
JohnNewcombe-groep: Alexander Zverev )2), Carlos Alcaraz (3), Casper Ruud (6), Andrey Rublev (8).




















