Wb Krieket

Aussies plaas Engelse onder méér druk

Australië het Dinsdag sy plek in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi bespreek, maar Engeland se plek in die uitspeelronde is nou in die gedrang.

Die Aussies se snelaanval het dié oorwinning met 64 lopies oor sy ou vyand verseker.

Die span het nou 12 punte ná sewe wedstryde. Dit is egter Engeland, op agt ná sewe, wat bekommerd oor sy skouer moet loer.

Bangladesj, Pakistan en Sri Lanka kan hom nog inkatrol. Wat sake nog moeiliker vir die gasheer maak, is die feit dat sy laaste twee wedstryde teen Indië

en Nieu-Seeland is, twee van die beste spanne in die toernooi.

As 'n mens dink hoe Engeland eendagkrieket die laaste twee jaar oorheers het, sal dit 'n reuse opskudding wees as hy nie die halfeindronde van die toernooi - boonop in sy agterplaas - haal nie.

'n Wonderlike boulvertoning deur Mitchell Starc (4/43) en sy vennoot met die nuwe bal, Jason Behrendorff (5/44), wat ook linkshandig is, het Engeland se kolwers van meet af aan op die agtervoet gehad.

Die Engelse moes 286 jaag om te wen.

Hy het egter sy eerste paaltjie verloor voor die telbord gepla is. Behrendorff het James Vince se penne ontwortel met 'n wonderlike inswaaier.

Twee beurte later het Starc die groot slag geslaan en die gevaarman, Joe Root, vir 8 been voor paaltjie betrap. Toe die Engelse kaptein, Eion Morgan, kort daarna ook 'n Starc-slagoffer geword het, was Engeland kniediep in die moeilikheid op 26/3.

Ben Stokes en Jos Buttler het vir 71 lopies om die vyfde paaltjie vasgebyt om die beurt weer op koers te kry.

Stokes het 'n wonderlike 89 (115 balle 8x4;2x6) gespeel en terwyl hy voor die penne was, kon Engeland nog droom van 'n oorwinning.

Starc het egter sy doppie geklink met die beste streepbal sover dié toernooi, 'n feitlik onspeelbare aflewering.

Die Aussies was vroeër effe teleurgesteld met hul totaal van 285/7.

Die aanvangspaar van Aaron Finch 100 (116 b, 11x4;2x6) en David Warner (53) het die besoekers die perfekte begin gegee met 123 lopies om die eerste paaltjie.

Die Aussies was op koers vir 320 met die telling op 213/3 en nog 70 balle tot hulle beskikking, maar toe verloor hulle spoed.

Dit was slegs 'n paar groot houe deur Alex Carey (38*) teen die einde wat die span by 285 gekry het.

Altus Momberg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM