Die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, sal albei hul Wêreldbeker (WB)-opwarmingswedstryde in Indië weens "familieredes" misloop.
Hy moes volgens 'n verklaring van Krieket Suid-Afrika die span in Indië verlaat en na Suid-Afrika terugkeer.

Die Proteas se eerste van twee losmakers in Thiruvananthapuram is Vrydag teen Afganistan. Die Kiwi's is Maandag hul teenstanders in hul tweede slypstryd. Aiden Markram sal in sy afwesigheid weer as kaptein waarneem.
Die Suid-Afrikaanse snelbouler Kagiso Rabada is intussen optimisties oor hul kanse in vanjaar se WB-toernooi en wil ook met voorbeeld lei.
Een ding wat ons as Suid-Afrikaners nog nooit kortgekom het nie, is geloof in onsself.
— Kagiso Rabada
Die 28-jarige Rabada sal in sy tweede WB-toernooi bykomende verantwoordelikheid dra met Anrich Nortjé en Sisanda Magala wat weens beserings op die nippertjie aan die Proteas se groep onttrek is.
Suid-Afrika, wat nog nooit die WB-toernooi gewen het nie en al vier keer in die halfeindronde verloor het, begin sy veldtog op 7 Oktober teen Sri Lanka in Delhi.
"Een ding wat ons as Suid-Afrikaners nog nooit kortgekom het nie, is geloof in onsself. Ons glo ons kan die toernooi wen," sê Rabada in 'n verklaring deur die Internasionale Krieketraad.
"Ons het die spelers om dit te doen. Hopelik kan ons ons eerste eindstryd haal en die kompetisie wen."

Hy sê dit gaan taai wees, maar hulle is oorgehaal vir die uitdaging.
Suid-Afrika het Australië pas met 3-2 by die huis geklop en het vanjaar nog nie 'n eendagreeks verloor nie.
Rabada, een van agt spelers in die groep wat in 2019 ook in Engeland in aksie was, aanvaar die verantwoordelikheid dat hy nou een van die meer ervare spelers in die groep is.
"Die toernooi in 2019 was my eerste en ek was glad nie suksesvol nie. 'n Les wat ek daaruit geleer het, is dat 'n span se samehorigheid die belangrikste faktor is, want enkelinge wen nie Wêreldbekers nie, spanne wel," sê hy.
"Ek het, hoe ouer ek geword het en hoe meer wedstryde ek gespeel het, al hoe meer besef dat ek 'n leier op dié gebied is."
Jy het droër toestande in Indië, wat kolfvriendelik is. Dit gaan dus daaroor om maniere te vind om suksesvol te wees.
— Kagiso Rabada
Rabada sê voorts wetende waartoe hy in staat is en deur ook na sy spanmaats te luister, wil hy hul samespel help verbeter. Hy het danksy talle seisoene as 'n uitblinker in die Indiese Premierliga ook baie goeie kennis van die toestande op die subkontinent.
Suid-Afrika het daarbenewens vanjaar en verlede jaar saam drie eendag- en agt T20-wedstryde in Indië gespeel.
"Dit help wel as jy vertroud met die toestande by die verskillende velde is. Om oor die jare al in Indië te kon speel, maak jou vertroud daarmee en met wat van jou verwag word," sê Rabada.
"Die meerderheid van ons span het al in Indië gespeel, maar vir dié wat nog nie baie daar gespeel het nie, is dit belangrik om ons ervarings te deel.
"Jy het droër toestande in Indië, wat kolfvriendelik is. Dit gaan dus daaroor om maniere te vind om suksesvol te wees."
Afganistan se bybreker Rashid Khan sal Suid-Afrika se vermoëns teen draaiers Vrydag toets.
Die Afgane het vyf spelers in hul groep wat Suid-Afrika in 2020 se o. 19-WB-toernooi in Kimberley met Gerald Coetzee in die geledere geskok het. Coetzee is nou lid van die Proteas se WB-groep.




















