Wb Krieket

Beseringspook loop in Aussies se kamp

'n Gevoelige slag het Australië se krieketspan getref met die nuus dat die kolwer Usman Khawaja Donderdag se halfeindstryd teen Engeland in Birmingham weens 'n dyspierbesering gaan misloop.

Die 32-jarige Khawaja is egter nie die enigste Aussie wat met 'n besering sukkel nie, aangesien die veelsydige Marcus Stoinis las het van sy heup.

"Ussie het 'n dyspierbesering, so hy sal tussen drie en vier weke langs die kantlyn wees. Dit is jammer, maar ons moet daarop fokus om hom betyds reg te kry vir die reeks om die As," sê Justin Langer, afrigter van Australië.

Matthew Wade en Mitchell Marsh het hulle by die span aangesluit.

"Hulle is nog nie in die finale elftal nie, maar Matthew Wade se spelpeil is die afgelope 12 maande baie goed en hy het pas twee honderdtalle in eendagkrieket aangeteken."

Khawaja het die veld Saterdag teen Suid-Afrika verlaat weens die besering en het later teruggekeer om verder te kolf, maar was duidelik in pyn.

Die eerste toets in die reeks om die As begin op 1 Augustus op Edgbaston in Birmingham. - Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM